Standerton en Distrik hengelaars katrol blinklywe in
Die eindstryd van die Mpumalanga Klubliga vind op 23 September by die Vaaldam, Leeuplaas, plaas.
Standerton en Distrik Hengelklub het onlangs ’n kompetisie by Grootdraaidam gehou waar hengelaars in die onderskeie afdelings meegeding het.
Jaco van der Merwe het in die seniorafdeling geseëvier met 18 visse van 11,14kg, gevolg deur Louis Fourie met 17 visse van 11,14kg en Riaan Draper met 15 visse van 10,56 kg.
Nicoline Kuhn het koning in die vroue-afdeling gekraai met 13 visse van 6,78kg en Dalene Hoffman was tweede met ses visse van 3,00kg.
Morne Kuhn het in die 0/19-juniorafdeling sy slag gewys na ’n vangs van 15 visse wat 8,42kg geweeg het, terwyl Johan van Heerden tweede met 10 visse van 6,12kg en JP Hoffman derde met vyf visse van 3,50kg geëindig het.
Jeandre van der Merwe was onoorwonne in die 0/13-juniorafdeling met agt visse van 3,52kg, terwyl Chiminique Hoffman die tweede plek met ses visse van 3,90kg en Christelle van Heerden die derde plek met vier visse van 2,98kg behaal het.
Christelle van Heerden het swaarste kleinbekgeelvis van 1,04kg vasgekap, Nicoline Kuhn die swaarste moddervis van 1,16kg en Riaan Draper die swaarste karp van 2,92kg.
Die klub sal op 7 Oktober ’n kompetisie by Trichardtsfonteindam op Trichardt aanbied.
Hengelaars kom om 6.15vm by die hek van Secunda Hengelklub bymekaar en sal vanaf 7vm tot 3nm hengel.
Klublede het ook op 26 Augustus aan die derde liga van die Suid-Oos Streek deelgeneem en het in die senior- en meestersafdeling eerste geëindig het, terwyl die vroue tweede was.
Die eindstryd van die Mpumalanga Klubliga vind op 23 September by die Vaaldam, Leeuplaas, plaas.



