Local sportSport

Andries glo jy moet waardig kan verloor en nederig wees wanneer jy wen

Hekkiesafrigter glo nie aan doelwitte nie, want volgens hom het mens ’n eindpunt wanneer jy vir jou ’n doelwit stel, en hy het beslis nie ’n eindpunt nie.

‘n Dyspierbesering in gr. 12 asook sy studies in optometrie, het Andries Burger laat besef dat hy geestelik nie sterk genoeg is om sport op ’n professionele vlak te beoefen nie.

Burger het as leerder aan Hoërskool Hoogenhout provinsiale kleure in atletiek, rugby en krieket verwerf, en was ook akademies sterk.

Hy was ondere andere die hoofseun in sy laaste skooljaar.

“’n Sportman se raklewe is eintlik kort en ek het daaraan geglo dat ’n mens ’n kwalifikasie moet hê sodat jy iets het om op terug te val.

“Die besering wat ek in gr. 12 opgedoen het, het die mat onder my uitgeruk.”

Deesdae hardloop hy padwedlope en het ook reeds ’n paar Warrior-resiese saam met die jongklomp aangedurf.

Hy leef ook deesdae sy liefde vir atletiek uit deur 13 hekkiesatlete af te rig.

Burger glo dat sy pad vir hom uitgewerk is.

“Atletiek het my gekies, ek het vir niks gevra nie.”

Hy is genader om hekkiesatlete af te rig en hy wil die atlete die beste maak wat hulle kan wees, maar aan die einde van die dag wil hy van hulle beter mense maak vir hul toekoms.

“Atletiek het vir my baie lewenslesse geleer en dit is lekker om die atlete te sien ontwikkel.”

Sport het hom ook selfdissipline geleer en dat ’n mens altyd respek moet hê vir die deelnemers en die reëls van die betrokke sport.

Hy glo nie aan doelwitte nie, want volgens hom het mens ’n eindpunt wanneer jy vir jou ’n doelwit stel, en hy het beslis nie ’n eindpunt nie.

“Ek sal graag so lank as moontlik wil afrig en daar as bystand wees vir die atlete.”

Burger het daarop gewys dat sy atlete se prestasies hom nie ’n beter of slegter mens maak nie en hy wil hulle leer om altyd nederig te wees en nie arrogant nie.

“Sport is ’n oefenlopie vir jou lewe en daarom is dit belangrik dat ’n mens waardig moet verloor en nederig moet wees wanneer jy wen.”

Volgens hom is hy glad nie ’n negatiewe mens nie en is hy iemand wat altyd die goeie in elke situasie sien en hoe hy daaruit kan leer.

“My boodskap aan die atlete is om altyd die ‘bar” hoër te stel as wat jy dink moontlik is. ’n Mens is tot meer in staat as wat jy dink jy is.”

Burger bring ook sy kant op provinsiale vlak waar hy die voorsitter is van Mpumalanga Baan en Veld.

Hy skryf binnekort sy Vlak 3 afrigtingseksamen wat beteken dat hy ook op nasionale vlak kan afrig

Hy is getroud met Deirdre en die egpaar het twee kinders.

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button