Local sportSport

Rena se grootste doelwit in polocrosse is om ten minste ’n drie-voorgee te wees

Ruiter sê dat perdry eintlik ’n siekte is, want as jy eers begin het, wil dit jou nie los nie.

Rena van der Merwe is die afgelope drie jaar lid van die Bethal Polocrosseklub.

Sy ry nog haar lewe lank perd en volgens haar speel mens polocrosse op Bethal as jy hier wil perdry.

Sy is een van drie kinders en haar ouers het vroeg reeds besluit om hul kinders vir perdrylesse te neem ,“sodat ons by vakansie-oorde kan perdry”.

“Ek het egter meer ernstig oor perdry geraak as wat my ma-hulle besef het ek sou.”

Volgens haar is dit eintlik ongelooflik om te dink dat ’n perd ’n dier is wat meer as ’n half ton weeg en dat hy jou toelaat om hom te beheer.

“Dit is absoluut spanwerk tussen ruiter en perd.”

Rena het gesê dat perdry eintlik ’n siekte is, want as jy eers begin het, wil dit jou nie los nie.

Haar grootste doelwit in polocrosse is om ten minste ’n drie-voorgee te wees. Sy speel tans van ’n 0 af.

“Polocrosse is baie fisiek en ruiter en perd moet baie fiks wees.”

Haar fiksheidroetine is om perd te ry.

Dit is ook belangrik om ’n mens se perd af te rig en dit doen sy deur sirkels te ry sodat die perd kan soepel wees en dan om vinnig te stop en weg te trek.

“Polocrosse is ’n baie vinnige sport en die perde is eintlik ongelooflik.”

Bethal se span het verlede naweek aan ’n kompetisie op Vryburg deelgeneem en die span het tweede geëindig.

Hulle oefen gereeld as ’n span saam om onder andere hul wedstrydstrategie te beplan.

Rena het vyf perde, waarvan twee nou te oud is om aan polocrosse deel te neem.

Die perd waarmee sy eintlik die sport beoefen, het tans ’n besering wat sowat 18 maande sal neem om te herstel.

Sy gebruik tans ’n perd van die klub.

Rena het regte studeer, “want dit het nie wiskunde behels nie”.

Hoewel sy ’n rukkie gepraktiseer het, het sy na haar troue met Gert van der Merwe na sy ouers se plaas toe gekom.

Sy en haar man het mekaar as regstudente leer ken.

Die plaas is net buite Bethal op die Hendrina-pad geleë.

Rena bring haar kant in die besigheid deur die salarisse en personeelaangeleenthede te hanteer.

Sy geniet die plaaslewe, veral omdat dit nie die stad se gejaagde lewe is nie.

Die plaaslewe was nie vir Rena ’n groot aanpassing nie, omdat sy op ’n kleinhoewe buite Pretoria grootgeword het.

Sy is tans die sekretaris van Bethal Polocrosseklub en volgens haar is die klub soos ’n groot familie en daar heers ’n goeie atmosfeer.

Rena en haar man is die ouers van die eenjarige Gerrie.

Sy het gesê dat solank jy bo-op ’n perd kan bly, kan mens polocrosse speel.

Een van die deelnemers aan die onlangse kompetisie op Vryburg was 72 jaar oud.

Rena neem soms haar seuntjie saam na polocrosse en volgens haar loop hy op en af langs die veld.

“Ek sal hom leer perdry, maar gholf is ook ’n opsie omdat Gert so ’n goeie gholfspeler is.”

 

Vir meer nuus besoek gerus ons ander webblaaie. Standerton Advertiser & Highvelder

“Like”’ ons op Facebook en volg ons op Twitter en Instagram.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button