Jong fietsryers leer vaardighede
Klub wil hê jong fietsryers moet onafhanklik wees en self fietse regmaak.
SECUNDA – Sasol Fietsryklub het onlangs ’n vaardigheidsfietsrykliniek vir leerders van die laerskole Kruinpark, Goedehoop en Secunda aangebied.
Die aanbieding was gratis en die doel was om jong fietsryers se vaardighede te ontwikkel sodat hulle onafhanklik kan wees en self hul fietse kan regmaak.
Dit het oor die basiese onderhoud van fietse en veiligheid gegaan en is deur die klub se kaptein, mnr. Jacques Theron, aangebied.
Bykans 50 leerders van gr. 1 tot gr. 7 en van hul ouers het die kliniek bygewoon.
Ná die aanbieding het die leerders by die Eendedam ’n entjie fiets gery en toe die vaardighede wat hulle geleer het toegepas deur onder andere ’n pap wiel reg te maak, ’n gebreekte ketting te las en hoe om die fiets skoon te hou.




