School sportSport

Secunda-atleet is SA se nuutste spiesgooikampioen

Met haar vierde gooibeurt het sy die wenafstand behaal van 45,46m.

“Mamma, vandag wil ek wen!”

Dit was Nicole Lindeque se woorde aan haar ma, me. Coulette Lindeque, die more van die Suid-Afrikaanse Atletiekkampioenskap vir Hoërskole wat op 23 en 24 Maart op Potchefstroom gehou is. Nicole is Suid-Afrika se nuutste D0/15-spiesgooikampioen.

Dié tenger gr. 9-leerder van Hoërskool Secunda het dié dag selfs haarself verbaas deur haar persoonlike beste afstand in spiesgooi met 5m te verbeter. Sy was derde op die ranglys met ’n afstand van net oor die 40m wat sy op die Mpumalanga-atletiekbyeenkoms aangeteken het. Die voorloper het op daardie stadium reeds by die 45m-merk gegooi.

Nicole het met elke gooibeurt nader aan haar doelwit gekom. Voor elke gooi het sy eers gebid en vir haarself herhaal: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

Met haar vierde gooibeurt het sy die wenafstand behaal van 45,46m.

“Dit was ’n haarbreedte van die gunsteling se afstand af. Dit was selfs vir my onwerklik,” het sy gesê.

“Ek het vir die eerste keer met dié sportsoort kennis gemaak toe ek in gr. 6 in Laerskool Goedehoop was,” het Nicole vertel.

Me. Lindeque het vertel dat Nicole destyds reeds die seuns in haar klas op hul neuse laat kyk het deur hulle almal uit te stof. Sy gooi steeds verder as die meeste seuns van haar ouderdom.

Lees ook: Hoërskool Secunda maak skoonskip in Pukke-reeks met meeste van hul spanne wat hul wedstryde wen

Dit is moeilik om te dink dié slanke lyfie dra soveel krag, maar Nicole se afrigter glo dit is ’n gebore talent.

Mnr. Vleis van Zyl het destyds iets in dié dogter raakgesien wat hom laat besef het sy is kampioenmateriaal. Hy het haar ouers genader om haar af te rig.

Nicole Lindeque saam met die nuwe liefde in haar lewe, Luna.

Selfs ná hy na Kemptonpark verhuis het, reis hy steeds weekliks na Secunda om vir Nicole af te rig.

“Hy het net daai iets waarmee hy telkens vir Nicole aanspoor en aanmoedig,” het me. Lindeque verduidelik.

Nicole oefen bykans daagliks. Die dae wanneer haar afrigter nie op Secunda is nie, gaan gooi sy net gewoonweg spies by die Sasol Ontspanningsklub.

“Ek neem haar daarheen om op haar eie te oefen. Gelukkig gaan haar maats gereeld saam om die spies te gaan haal.”

Nicole het groot bewondering vir Leandri Lamprecht, ’n oudleerder van Hoërskool Secunda wat verlede jaar ’n goue medalje in spiesgooi by die Afrika Spele verower het.

“Ek wil op Potchefstroom gaan studeer en ek mik vir die Olimpiese Spele,” het sy gesê.

Nicole is mnr. Bruce en me. Coulette Lindeque se jongste en sportiefste kind. Haar ouer suster, Allison, is vanjaar die onderhoofdogter van Hoërskool Secunda, en hoewel Nicole akademies goed vaar, is sport haar sterk punt.

Sy speel al vir die laaste paar jaar in die Mpumalanga-netbalspan.

“Ek wonder of sy nie eerder meer uitblink in netbal as spiesgooi nie,” het haar ma gesê.

Maar Nicole geniet spiesgooi die meeste. Dit, en die drie weke oue Luna, ’n kruising tussen ’n dwergkees en ’n chihuahua, is die groot liefdes in haar lewe.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button