
SECUNDA – Dawie Saaiman het sedert 2009 jaarliks sy provinsiale kleure in diepseehengel verwerf en is gekies om aan ’n internasionale diepseehengelkompetisie in Puerto Rico deel te neem.
Hy en twee ander Suid-Afrikaners, Dwayne Viviers en Robin Vermaak, het Donderdag, 11 Oktober na Puerto Rico vertrek en die kompetisie begin Dinsdag, 16 Oktober en duur vir ’n week.
Hulle is lede van die Taratibo Diepseehengelklub.
Saaiman sien uit daarna om vir die eerste keer in Puerto Rico te hengel en het gesê hulle gebruik ander metodes as wat in Suid-Afrika gebruik word.
“Ons gaan die eerste paar dae gebruik om ’n boot te huur en dinge uit te toets,” het hy gesê.

Hulle sou al verlede jaar in Puerto Rico gaan deelneem het, maar toe het orkaan Maria dié eiland getref en verwoesting gesaai en die komptisie is gekanselleer.
Saaiman het destyds gehelp om Sasol 2 aan die gang gekry en het op Sasolburg, Secunda en Mosselbaai as instrumentele tegnikus gewerk.
Hy het in die vroeë tagtigerjare op St Lucia van die kant af begin hengel tydens vakansies terwyl hy op Secunda gewoon het.
Hy het later na Mosselbaai verhuis waar hy meer die geleentheid gekry het om te hengel en vir homself ’n boot gekoop het en sosiaal gehengel.
Hy het in 1996 weer na Secunda verhuis en iemand ontmoet wat spesifiek marlyn gevang het en hy het saam met hengelaars wat groot bote gehad het, begin om ernstig in diepseehengel belang te stel.
Daar is drie afdelings in diepseehengel wat bodemvis, roofvis, marlyn en seilvis insluit.
Saaiman het vroeër jare graag roofvis gevang, maar die laaste paar jaar het hy meer op marlyn gefokus.
Roofvis sluit in tuna, barracuda, die verlore seun (cobia) en die Dorado, of soos Saaiman dit noem, die hoender van die see omdat dit die lekkerste seevis is om te eet.

Die hengelaars hou gewoonlik die roofvisse wat hulle vang, maar die marlyn en seilvis word weer vrygelaat.
Saaiman het al 11 marlyne gevang en het gesê dit is ’n gespesialiseerde hengelvorm wat gebruik word om marlyn te vang.
“Ons sit gewoonlik net ’n etiket op die marlyn, neem ’n foto en laat hulle dan weer vry,” het Saaiman gesê.
Daar is gewoonlik tussen vier en vyf hengelaars op ’n boot wat vir marlyn hengel en hulle sit ook so vyf stokke in die water.
Die boot ry teen tussen 11 en 13km per uur, afhangende van die weer en hoe rof die see is.
Die aas lyk soos ’n vis wat swem en borrels blaas en volgens Saaiman lyk dit soos ’n vis wat gewond is waarvoor die marlyn dan gaan.
Die grootste marlyn wat hy al gevang het, het sowat 230kg geweeg en dié visse kan tot 443kg weeg.
Die bote wat spesifiek marlyn vang, kom met ’n ‘gevegstoel’ op die boot en die hengelaars gebruik vislyn van sowat 37kg om dié groot visse uit te trek.
Saaiman sal graag volgende jaar weer internasionaal wil gaan deelneem en dan sal hy op die Amerikaanse eiland, Hawaii, waar daar ook jaarliks ’n groot internasionale diepseehengelkompetisie is, wil gaan deelneem.
Hy maak self die aas wat hengelaars gebruik om marlyn te vang en hy hengel ook graag vir baarsvis en forel wat albei op verskillende maniere en met verskillende stokke gedoen word.




