Standerton se Jan Nortje leer sy mense die fynere kunsies van hengel
Coco, die opregte Jack Russel en Rixy, iets tussen ’n worshondjie en Jack Russel, gaan ook saam.
Al drie van Jan Nortje van Meyerville Hengelklub se kinders het langs die viswater grootgeword.
Die tradisie leef voort en kleinseun, George Terblanche het wrintiewaar verlede jaar die die titel van juniorkampioen ingepalm.
“Eintlik kom dit van my pa af, hy was ‘n groot hengelaar,” het Jan laat blyk.
Die saak werk so.
Dinsdag is die hengeldag vir hom en Solly du Preez.
Wyle Herman Kriel was ook ‘n hengelmaat.
“Maandag sit ons verlof by die huis in om te gaan visvang.”
Coco, die opregte Jack Russel en Rixy, iets tussen ‘n worshondjie en Jack Russel, gaan ook saam.
“Hulle is gereed as ek Maandag die bakkie pak vir die volgende dag.”
Om 9.30vm sal wors op die vuur gesit word en teen 2nm is dit die tjoppies se beurt.
Meyerville Hengelkub vier vanjaar sy 50ste bestaansjaar en Jan is van mening dat hy oud by die klub geword het.
Seestokke, damstokke, rivierstokke, noem maar op. Jan dokumenteer getrou op ‘n vorm die dag, datum, weersomstandighede, maan en hoeveelheid vis wat gevang is.
Hy het al ‘n bielie van ‘n baber. wat die skaal op 19,2kg laat trek het, vasgekap, bokant die dam se inloop en ‘n geelvis van 32 pond, in die ou taal, aan wal gebring.
“Ons het die vis in die bad gesit en die stert het tot by die badprop gelê.”
Sowel George as Monrie vergesel oupa deesdae na die klubwater.
“Oupa gooi te diep,” preek George.
“‘n Mens is mos nooit te oud om te leer nie, of hoe?”, aanvaar Jan dit gelate.
“Dit is ‘n voorreg om saam met jou kleinkinders te gaan hengel,” het hy mee afgesluit.



