Snelroeier van Kameelfontein wen silwer by wêreldbeker
Olivier het verlede jaar teen roeiers van bykans 32 ander lande op die Wêreldbeker in Barnaul, Rusland meegeding.
Esti Olivier is vir die afgelope 13 jaar is al die vroue-roeikampioen in verskeie afstande en het Suid-Afrika al 24 keer verteenwoordig.
Dié plaaslike kajak-snelroeier van Kameelfontein het 2021 afgesluit met ’n silwer medalje wat sy by die Wêreldbeker in Rusland verower het.
Medaljes wat sy op ’n nasionale vlak behaal het, is in die honderde.
Olivier het verlede jaar teen roeiers van bykans 32 ander lande op die Wêreldbeker in Barnaul, Rusland meegeding.
“Dit was my 500m A-eindstryd (die wedvaart tussen die top nege deelnemers), waar ek my eerste internasionale medalje weggestap het. Ek was maar 0,03 sekondes agter die wenner.
“Dit was die laaste wedvaart van die Tokio Olimpiese Spele se vyf-jaar-siklus.”
“Dit was ’n ongelooflike oomblik om saam met my afrigter, Niel du Plessis, te deel wat gelukkig saam met my daar was,” het sy vertel.
Die laaste paar jaar was volgens Olivier, seker die moeilikste jare wat sy nóg as ’n atleet ervaar het, juis omdat sy in 2019 die eerste kans om haar Olimpiese droom te bewaarheid, verspeel het.
Olivier het daardie jaar by die Senior Wêreldkampioenskap en Olimpiese kwalifiseringsbyeenkoms uitgeblink, maar ’n teleurstellende halfeindstryd het dit verander.
Tog het sy die C-eindstryd met een van die vinnigste tye van die dag gewen.
Buiten dié deelname, het Olivier daardie jaar ook drie goue medaljes op die Afrika Spele in Marokko verower.
Olivier beskryf dié sport as ’n passie wat ’n mens deur die hoogtepunte en uitdagings dra.
“Dis die passie wat jou aanspoor om deur die moeilike sessies, kompetisie-teleurstellings en opofferings te druk om jou droom te bewaarheid.”
Sy het al aan meer kompetisies deelgeneem as wat sy omgee om te tel en het al in meer as 10 lande deelgeneem, onder andere in Rusland, Italië, Duitsland en Kenia.

Olivier neem jaarliks oor die algemeen aan drie internasionale kompetisies en twee nasionale kompetisies deel, sowel as die provinsiale kampioenskap en dan ook aan ’n handvol plaaslike kompetisies as dit by haar oefenprogram inpas.
“Baie van die kompetisies is hoofsaaklik in die Oos-Europese lande. In Suid-Afrika neem ons dikwels by Shongwenidam in KwaZulu-Natal en by Roodeplaatdam deel.”
Die afstande wat sy gereeld aflê, is die K1 500m waarin sy spesialiseer, maar sy neem ook aan die 200m deel.
Om haar fiksheid te behou, doen sy twee tot drie oefensessies ’n dag, driekeer ’n week, afhangend van die seisoen.
Sy het ’n boot in Suid-Afrika waarvan die model uit Portugal, een van die grootste verskaffers van snelroeibote in die wêreld, afkomstig is.
Wanneer sy oorsee deelneem, huur sy dieselfde model en neem net haar eie sitplek en voetstuk saam.
Sy het ook deur die jare op verskeie junior en senior Gautengkampioenskappe medaljes verower. By die Senior SA- en Junior SA-skolekampioenskappe het sy pryse in gepalm.
As 11-jarige atleet het sy aan haar eerste SA Skole Kampioenskap deelgenee het. Hier het sy in 2004 11 goue medaljes in gepalm en was ook as Victrix Ludorum aangewys. Sy het selfs by die Afrika Kampioenskappe die Junior titel in 2008 gewen.
“My mees spesiale oomblikke is egter nie aan medaljes gekoppel nie.
“Daar is wedvaarte wat jy doen, of dit nou in ’n uitdun, ’n halfeindstryd of ’n eindwedvaart is, waar alles net bymekaar kom.
“Waar al die harde werk wat jy agter die skerms ingesit het na vore kom as ’n beloning aan jouself.”

Olivier het op 14-jarige ouderdom in Cyor, Hongarye aan haar eerste wêreldkampioenskap deelgeneem.
“Ek het deur my pa, Phillip van Tonder, aan kajakroei blootstelling gekry.
“Hy was ’n ysterman-atleet in die dae toe dit nog roei, fiets en hardloop was.”
In 2013 het sy aan die 0/23-wêreldkampioenskap in Kanada deelgeneem.
“Dit was met die 500m -halfeindstryd waar ek een van eerste Suid-Afrikaanse vroue geword het om ’n A-finaal by ’n wêreldkampioenskap in ’n Olimpiese afstand te behaal.”
In 2015, het Olivier aan die Wêreldkampioenskap in Portugal deelgeneem.
“Weer eens het ek die 500m halfeindstryd gewen en het ek na die A-finaal deurgedring. Dit was ’n perfekte resies.”
Volgens Olivier, is daar geen ouderdomsbeperking in roei nie wat dié sport nog meer gesinsvriendelik maak.
“Jy kan op enige ouderdom begin en aangaan tot die dag wat jy fisies nie meer by die water kan kom nie.”
Hoewel dit net jy alleen is wat roei vir die wenstreep beskou sy die sport as ’n spansport.
“Ek sit dalk alleen in die boot, maar al die voorbereiding en oefening word deur ’n span beplan en uitgeoefen.”



