Local sportSportStreeknuus

Jong hengelaar van Bronkhorstspruit mik om onder Top 3 van Pro Mania te wees

“Dit hoef nie altyd by ’n dam te wees nie. Soms gooi ek sommer vir die lekker ’n lyntjie voor ons huis in die pad.”

Lizemi Berry (12) van Bronkhorstspruit het aan die nasionale 0/13-juniorliga deelgeneem en is deel van die Pro Mania top 10.

Sy het hier ’n rekord opgestel vir die grootste karp wat in ’n enkele Pro Mania-kompetisie deur ’n penkophengelaar gevang is.

“Ek was geskok, want hul sê jou nie vooraf dat jy ’n rekord behaal het nie. Ek kon dit nie glo nie. Dit is my eerste rekord,” het sy vertel.

Sy hengel tans vir Pisces Hengelklub in Pretoria en gaan binnekort aan die proewe vir Gauteng Noord deelneem.

As ’n Laerskool Du Preez van Wyk-leerder hou sy die Dupies se naam hoog.

Hoewel sy droom om ’n baber van meer as 20kg en ’n karp van 10kg of groter vas te kap, voel sy dié is die beginpunt.

“My hart begeer ook om eendag ’n grootbek geelvis kant toe te bring. Ek wil graag bou op hierdie prestasie en sien uit daarna om in 2022 nog sakke vol vis in te palm,” het sy met ywer laat hoor.

Lizemi Berry en die grootste baber vir 2021 van 5.6kg. (Foto: Verskaf)

Daar is soveel kompetisies waaraan sy deelgeneem het dat sy al opgehou tel het.

“Ek vang in verskillende afdelings. Ek hengel al vanaf 2020 en het al sowat 40 Pro Mania-kompetiesies gedoen en sowat 15 klubkompetisies,” het sy gesê.

By die klubkompetisies is daar net vier deelnemers van haar ouderdomsgroep, maar hulle hengel nie op hul eie nie.

“Ons staan tussen die groot ooms en soms klop ons hulle ook,” het sy gesê.

By die Pro Mania wissel die getalle, maar daar is sover 12 deelnemers wat vir 0/13 ingeskryf het en op die telbord is sy tans agtste in die top 10.

Dié jong hengelaar neem aan die nodige klubkompetisies deel met die doel om haar provinsiale kleure te verwerf.

Sy neem ook aan Pro Mania deel wat die grootste oewerhengelkompetisies in die land is.

In die klubkompetisies het sy al ’n tweede plek ingepalm en twee derde plekke wat kontantpryse is, behaal.

Lizemi Berry by die Pro Mania met haar karp van 2.36 kg. (Foto: Verskaf)

In 2021 het sy ook deurgedring na die gesogte Pro Mania-eindrondes waarvan daar egter nog net een been voltooi kon word weens baie reën.

Sy neem deel aan die tweede been op 2 April en poog om dan in die top drie te eindig wat ook kontantpryse bied.

Haar liefde vir visvang het ontstaan by haar stiefpa, Rian Geyer wat in 2018 by die Premier Myn-hengelklub aangesluit het.

“Ek en mamma het naweke saamgegaan. Ek wou ook ’n stokkie gooi, maar my pa het gesê mens begin by die begin.

“Hy sit baie tyd in om my te help sodat ek kan uitblink op my eie en te weet wat om in ’n krisis te doen.

“So het ek naweek na naweek saamgegaan en was eers my pa se regter hand en het sy vangste vir hom geskep. Hy het my als geleer totdat ek in 2019 my lyn kon ingooi,” het sy vertel.

Sy berei ook deeglik voor vir die kompetisies deur eers na die toerusting te kyk.

“Ek maak seker ek het ekstra stroppe in my kas. Al die katrolle se lyne gaan ek na om seker te maak als is vol.

“Daar moet ook genoeg aas en voer wees. My pa en ma vat my ook om my gooie en tegnieke te oefen,” het sy afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button