Fietsryer van Bronkhorstspruit droom groot
Hy neem tans in die seunsafdeling van die Spur-skolereeks deel.
“Die gevoel van vryheid en die adrenalien van gesonde kompetisie hou die passie wakker.”
Só vertel Ian van Zyl, ’n fietsryer van Bronkhorstspruit.
Dié jong bergietsryer wil graag eendag sy sport as ’n beroep beoefen.
Hy neem tans in die seunsafdeling van die Spur-skolereeks deel.
Vir die afgelope vyf jaar is hy op sy gelukkigste op ’n saal.
“Ons is ’n baie aktiewe gesin en fietsry is iets wat ons saam kan doen, dus het my liefde vir fietsry het daar begin,” het hy laat hoor.
Sy hoogtepunt to dusver is om die kans te geniet om te oefen en te verbeter.
“Ek beplan om nog aan baie kompetisies deel te neem. Op dié staduim is dit nog my passie, maar ek hoop om eendag ’n borg te kry en groot te gaan,” het hy vertel.
Sy grootste droom is om in die Cape Epic te presteer.
As hy nie die langpad aandurf nie, dan neem hy aan tweekamp deel en het juis aan Suid-Afrikaanse kampioenskappe in Port Elizabeth op Saterdag, 2 April, deelgeneem.
“Ek glo ’n mens moet gebalanseerd lewe en altyd onthou dat jou talente van die Here af kom,” het hy afgesluit.



