Bronkies se eerstes stormloop in eerste ligawedstryd
Bronkies se rugbymanne sorg vir naeltbyt-wedstryde.
Watter dag was dit nie vir Bronkies Rrugbyklub se eerstespan nie.
Die rugbymanne het op Bronkies se tuisveld teen Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) te staan gekom in die eerste ligawedstryd van die seisoen.
Breëbors het hulle teen TUT se varsity beker-span uitgedraf.
Die eerstespan het van die begin af die skroewe behoorlik vas gedraai.
Agste man, Brink Bosman het in die vyfde minuut sy eerste drie gaan druk en punte aangeteken.
TUT was die hele tyd onder druk en Bronkies het hulle geen beweegruimte toegelaat nie.
Die verdediging van die tuisspan was uit die boonste rakke en dis ook hier waar die veldslag gewen is.
Die eindtelling was 23–17 in Bronkies se guns.
Die Man van Wedstryd is Wynand Venter wat teen die einde van die wedstryd ’n drie afgeweer het met ’n ongelooflike duikslag ná TUT se regtervleuel al begin juig het omdat hy gedink het dis die wendrie vir TUT.
Die tweedespan het vasgeval en met 5–19 verloor, maar hulle het tog die koppe hoog hou.
“Dit kon so maklik anders gewees het sou Bronkies net beter kon afrond. Geleenthede was daar genoeg. Die Man van Wedstryd was Ito Mabena,” het voorsitter Lourens Du Plessis vertel.
“Welgedaan Bronkies, ons dorp se trotse klub,” het Du Plessis afgesluit.







