Halfeindstryd wink vir Delmas
“Wen of verloor in 2022, ons mikpunt is om die dorp weer in die gees vir plaaslike rugby te kry, maar natuurlik sal dit lekker wees as die beker huis toe kom.”
Die afgelope drie jaar was ’n steil opdraande vir die Delmas Rugbyklub.
Na verskeie terugslae, soos die brand wat in 2019 by die klubhuis ontstaan het, was die bestuur, afrigters en spelers vasberade om weer rugby te speel.
Nou in 2022 het die klub uit die as verrys en speel hulle klipharde wen-rugby.
Die Delmas Rugbyklub neem tans aan die Kestrel-liga deel.
Die span het weer gewys wat in hulle steek toe hulle op Saterdag, 2 Julie op die veld van Hoërskool Delmas teen Katlehong te staan gekom het.
Teen halftyd het Katlehong met 14 punte teenoor die 12 van Delmas voorgeloop.
Na rustyd het die span van Delmas egter die bordjies verhang en het hulleKatlehong naelskraap met 22–21 geklop.
Eugene Coetzee, Jaco Els en Arno Loggenberg het vir die drieë gesorg.
Loggenberg het twee keer suksesvol die bal tussen die pale deurgesit en ook gesorg vir punte op die telbord na ’n strafskop aan Delmas toegeken is.
Die laaste kwalifiserende wedstryd in die reeks voor die halfeindronde vind op Saterdag, 9 Julie op die veld van Hoërskool Delmas teen die span van Vanderbijlpark plaas.
Ná ’n reeks oorwinnings staan die span tans derde op die punteleer het hulle reeds gekwalifiseer om in die halfeindronde op Saterdag, 16 Julie deel te neem.
“Ons paadjie is geteer na die halfeindronde toe.
“Ons behoort eerskomende naweek ’n goeie wedstryd te hê.
“Ons spelers is gemotiveerd en ons as afrigters is baie opgewonde,” het Jandré Senekal, een van die afrigters van die Delmas Rugbyklub Streeknuus meegedeel.
“Ons is baie dankbaar vir ons ondersteuners. Ons doel is om vir die Delmassers weer goeie rugby te gee.
“Ons wil hê ons mense moet weet dat die klub opgestaan het met ’n nuwe gesig en ’n nuwe klub met ’n nuwe kultuur.”
“Wen of verloor in 2022, ons mikpunt is om die dorp weer in die gees vir plaaslike rugby te kry, maar natuurlik sal dit lekker wees as die beker huis toe kom,” het Senekal afgesluit.
Die klub het ook nou ’n snoepie tydens wedstryde beskikbaar en vra dat toeskouers hulle sal ondersteun.
Die opbrengs daarvan gaan hoofsaaklik vir die opbou van die klub en die aankoop van nuwe rugbytruie vir die span.








