Karate-sensei van Cullinan-kontrei verwerf provinsiale en nasionale kleure
Gielie Nel het al meer as 200 medaljes ingepalm.
Plaaslike karate-uitblinker buite Cullinan, sensei Gielie Nel, neem al vir 23 jaar deel aan dié sport en het al meer as 200 medaljes in gepalm.
Op sewejarige ouderdom was hy blootgestel aan karate en hy het nog nooit terug gekyk nie.
Hy het al aan verskeie plaaslike, provinsiale, nasionale en internasionale kompetisies deelgeneem waarvoor hy provinsiale en nasionale kleure vir ISKF SA (International Shotokan Karate Federation) en FCMA SA (Full Contact Martial Arts) verower het.
“Een van die hoogtepunte om ’n sensei te wees, is om studente se vreugde te sien wanneer hulle ’n sekere doel of doelwit bereik het na hardewerk in die dojo,” het Nel vertel.
Sy liefde vir die sport het hom ook al laat reis deur Suid-Afrika en lande soos Swede en Mauritius waar hy aan internasionale kompetisies deelgeneem het.
Volgens Nel, is daar vyf etiese beginsels (Dojo Kun) van Shotokan Karate waarna hy streef, binne en buite die dojo naamlik karakter, opregtheid, toewyding, etiket en selfbeheersing.
Sy mentor tot op hede is sensei Rassie Erasmus wat nie geskroom het om sy potensiaal in die sport te bevorder nie.
“Hy het altyd leiding, ondersteuning en terugvoer aan my gegee om ten volle in karate te floreer,” het Nel afgesluit.




