Local sportSport

Sasol Digi Mag Rugbyklub is gereed vir Premierliga-eindstryd op Secunda

Die tweedespan het ook gewen met ’n sege van 43–0.

Sasol Digi Mag Rugbyklub is gereed om Witrivier dié Saterdag tuis in die Mpumalanga Premierliga te pak ná die klub se eerste- en tweedespanne vir Barberton in die halfeindstryd uitgestof het.

Die halfeindstryd is op Saterdag, 23 Julie op Sasol Digi Mag se tuisvelde op Secunda beslis.

Anwar Fillis, kaptein van Sasol Digi Mag se eerstes, lei sy span op die veld. Foto: Ian Haggerty

Die eerstespan het teen ‘n span van Barberton wat honger was om hulself in die Premierliga te bewys, te staan gekom.

Die wedstryd was gekenmerk deur hakerige spel en min skouspelagtige kraplopies.

Wanneer Sasol se spoedvrate soos kaptein Anwar Fillis, wel met die bal begin ooplê het, het ‘n fluitjie hulle gereeld in hul spore gestuit.

Vuilspel en veral hoogvatte was ongelukkig ook op die veld te sien en is twee van Barberton se spelers met geelkaarte van die veld af gestuur.

Die gemoedere, veral onder die besoekers, het hooggeloop en het vuiste ‘n paar keer geklap.

JP van Zyl raap die bal in ’n lynstaan op. Foto: Ian Haggerty

Albei spanne se verdediging was soos die mure van ‘n fort waardeur die aanvallers net nie kon kom nie. Die span wat op die aanval was, is telkens teruggedruk.

Sasol se heelagter, Marinus van der Merwe het die span se eerste punte aangeteken.

Ná ‘n skop van Fillis het Van der Merwe die bal opgeraap.

Heelagter Marinus van der Merwe hardloop agter die doellyn om ’n drie so na aan die pale as moontlik te druk.

Hy het die oop veld benut, tot by die verste hoekie genael en toe dadelik na regs geswenk voor hy ‘n drie nader aan die pale agter die doellyn, nader aan die pale, gedruk het.

Die ongure weer het ‘n ysige wind saamgebring wat balle van losskakel, Dirk Coetzer, se skopvoet telkens verby die pale gestuur het.

Die doelskop het ook nie geslaag nie en die telling was 5–0 in Sasol se guns.

Dirk Coetzer (losskakel vir Sasol Digi Mag se eerstespan) van die bal voor hy dit vir Marinus van der Merwe aangee om ’n drie te gaan druk.

Coetzer het kort hierna wel ‘n strafdoel deur die pale gestuur ná Barberton vir die gebruik van ‘n elmboog in die skrum gestraf is.

Die puntestand was toe 8–0 in Sasol se guns.

Barberton het egter hierop geantwoord met ‘n drie deur slot Mias Visagie. Dié drie is deur heelagter Corné Jansen van Rensburg verdoel.

Barberton se haker, Mark Pretorius, probeer vir Anwar Fillis keer. Foto: Ian Haggerty

Die halftydtelling was 8–7 in Sasol se guns.

Albei spanne het met nuwe vuur die tweede helfte aangedurf.

Die eerste punte in die tweede helfte het die telbord na 11–7 vir Sasol opgestoot ná Coetzer weer met ‘n strafdoel geslaag het.

Die senutergende tweede helfte het soos ‘n ewigheid van aanvalle en verdedigings gevoel.

’n Barberton-speler taken vir Steyn van den Heever in die lug terwyl Dalton Smit gereed maak om in te spring.

Enigiets kon nog die wedstryd se uitkoms geswaai het – en daar was ‘n keer of twee wat spelers soos Theuns Kruger oor die doellyn geduik het, maar die drie nie toegestaan is nie.

Die spanning was tasbaar totdat skrumskakel Dalton Smit naby die einde van die wedstryd met ‘n blitslopie ‘n drie in hoekie aan die oorkant van die veld gaan druk het.

Dié drie is nie verdoel nie.

Die eindtelling was 16–7 in Sasol se guns.

Theuns Kruger en Ruan Groenewald is as die spelers van die wedstryd aangewys.

Dalton Smit (skrumskakel vir Sasol Digi Mag) gee die bal uit die skrum aan.

Sasol Digi Mag se tweedespan het hul wedstryd gemaklik met 43–0 gewen.

Hulle het teen die einde van die eerste helfte met 12–0 voorgeloop, en met hul terugkeer vir die tweede helfte het die Sasol-spelers feesgevier.

Sasol Digi Mag se tweedespan juig oor hul sege van 43–0 oor Barberton in die halfeindronde van die Superliga. Foto: Ian Haggerty

Lodewyk Uys, die hoofafrigter van Sasol Digi Mag Rugbyklub is trots op sy spelers.

“Dit was vir my ‘n once in a lifetime game waar ons vir 60 minute verdedig het, en steeds gewen het.

“Ons het geweet Barberton het probleme met hul dissipline en Sasol-spelers het goed gedoen om nie betrokke te raak van die bal af nie, en dissipline te hou,” het Uys oor die eerstespan se wedstryd gesê.

Uys het verseker albei Sasol Digi Mag se spanne is gereed vir Witrivier in die eindstryd.

Die derde keer is die gelukkige nommer. Rudolf Pretorius beur oor die doellyn om ’n drie vir Sasol se tweedespan te druk. Sy vorige twee drieë was nie deur die skeidsregter toegeken nie.
Steven Mofokeng nael vir ’n drie tussen die pale in die kragmeting van die tweedespanne.

KLIEK HIER VIR MEER FOTOS: GALERY: Sasol Digi Mag se spanne klop Barberton in halfeindronde van Premierliga

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button