Dellies se hokkie-bokkies ontpop in kelnerinne
Daar het in totaal drie van Hoërskool Delmas se hokkiespanne vir die Noordvaal-liga gekwalifiseer.
Die D0/16-hokkiespan van Hoërskool Delmas het gewys dat hulle nie net goeie hokkie kan speel nie, maar ook as kelnerinne kan uitblink.
Dit alles het gebeur tydens ’n geldinsamelingsprojek by die Two Tomahawks Spur op Woensdagaand, 20 Julie.
Die spannetjie samel geld in nadat hulle gekwalifiseer het om aan die Noordvaal-toernooi deel te neem.
Ouers, kliënte en almal wat leef en beef het op die koue wintersaand ’n warm bederf bestel ten bate van die spelers.
Spur se personeel het vinnig opleiding gegee en gou-gou was die span gereed om bestellings te neem, drinkgoed voor te berei, op te skep en te bedien. Van die dogters het selfs hul talent in die kombuis uitgeoefen tydens die voorbereiding van die kos.
Die skoolhoof en sy vrou, Cas en Elmarie Badenhorst, het kom aansit om deur die vlytige spannetjie bedien en bederf te word. Ook die 0/13-span van Laerskool Delmas, trots uitgevat in hul hokkieklere en op die drumpel om hoërskool-hokkie te betree, het ook die gesellige aand bygewoon.
Die span het almal bedank wat hulle die aand ondersteun het.
Drie van Hoërskool Delmas se hokkiespanne het vir die Noordvaal-liga gekwalifiseer. Die 0/14, 0/16 en eerstespan sal aan die liga deelneem wat vanaf 28 tot 30 Julie plaasvind.
Die skoolhoof en personeel het al die borge bedank wat die geleentheid moontlik gemaak het. Hulle is Sygenta, Discount Implements, Louis Botha, Adie Centre, Marlize Gericke, Adelle Barkley, Delkor, NTT Toyota Delmas, JP Raath, Francois Kruger, Schoeman Boerdery, Riaan Muller, Tanja Pretorius, Two Tomahawks Spur Delmas, Riaan Grobbelaar, AHK Motor Spares, Alex Martinuzzi en Wally Lewis.









