Bethal Bears klop Standerton
Bethallers haal die besoekers se telling van 91 maklik in.
Die Bethal Bears het Standerton Krieketklub se eerstes in die eerste 50-boulbeurtwedstryd vir die jaar met sewe paaltjies geklop.
Die spanne het op 15 Januarie op die ovaal van Hoërskool Hoogenhout op Bethal kragte gemeet.
Standerton het eerste ingegaan om te kolf, maar die geluk was nie aan hul kant nie.
Goeie veldwerk van Bethal het die ook daartoe gelei dat ses Standertonners uitgevang is.
Bethal Bears se paaltjiewagter Corné Greyvenstein het vier vangskote agter die penne benut.
Bethal se openingboulers, Jean Greyling met ses paaltjies en André Swanepoel met vier paaltjies, was briljant met die bal.
Standerton het 91 lopies aangeteken voor die 10de paaltjie in die 19de boulbeurt gekantel het.
Quinton Kruger is Standerton se top puntemaker met 22 lopies vanaf 19 balle. Hy het drie sesse in sy kolfbeurt gemoker.
Kaptein Jan-Dirk van Dyk het 18 lopies vanaf 24 balle geslaan.
Bethal Bears het in die 19de boulbeurt 96 lopies vir drie paaltjies aangeteken.
Pieter Viljoen en Jean Vos het die Bears se kolfspel geopen.
Viljoen het 23 lopies vanaf 52 balle behaal, maar Vos kon slegs vier vanaf 15 balle maak. Karel Bodenstein is vir ’n nulletjie van die veld gestuur.
Die vennootskap tussen Drikus Pentz en Greyvenstein het ’n stewige 50 lopies ingebring.
Nie een was uit toe Die Bears Standerton se telling ingehaal het nie.
Standerton se beste boulers was Quinton Kruger met twee paaltjies en Henre Naude het een paaltjie laat kantel.













