Sasol Grip & Rip Rugbyklub van Secunda boender Witrivier uit liga
Die eerste span het 46-15 gewen en die tweede span 31-10. Hulle speel op 5 Augustus teen Barberton in die eindstryd.
Spanwerk was weer die geheim tot sukses wat toegelaat het dat die Sasol Grip & Rip Rugbyklub se spanne Saterdag die oorwinning laat smaak het.
Die eerste en tweede spanne het die halfeindstryd van die Mpumalanga Premierliga in ’n tuiswedstryd teen Witrivier oorheers.
Hoewel die ondersteuners met tye taamlik onrustig geraak het as Witrivier se eerstes te lank in Sasol se doelgebied vertoef het, was die skare gereeld op hul voete toe die bekende Sasol masjien ingeskop het.
Witrivier se losskakel, Boeta Botha, het die eerste punte aangeteken met ’n indrukwekkende strafdoel.

Sasol se vaskopstut, Andries Schutte het ’n skitterende wedstryd gespeel en is agterna as die voorspeler van die wedstryd aangewys. Hy het sy span se eerste drie gedruk terwyl die besoekers verbete aan hom geklou het.
Witrivier het hierdie drie met een van hul eie beantwoord deur Visser Maas wat deur Botha verdoel is
Na aanslag op aanslag van Sasol op Witrivier se doelgebied het Dalton Smit, Sasol se ratse skrumskakel, het ‘n opening gekry en sommer bo-oor die losgemaal geduik vir ’n drie.
Die sterk wind was nie Francois Myburg, heelagter, se skopvoet goedgesind nie, en die drie is nie verdoel nie. Die telling was toe 10 elk.
Dirk Lowies, linkervleuel, het hierna die bal opgeraap en na die doellyn genael vir nog ’n drie. Dié drie is verdoel.

Kaptein Anwar Fillis op buitesenter het hierna die eerste van drie drieë gedruk, reg langs die pale. Myburg het die drie verdoel. Die rustyd telling was 24-10.
Die tweede helfte het met ’n strafdoel vir Sasol begin en is met ’n drie deur Witrivier se Botha beantwoord.
Met die puntestand op 27–15 het Sasol se ratte in plek geval en van daar af het die punte ingerol, ten spyte van twee doelpogings wat nie deur die skeidsregter erken is nie.
Schutte het weer vir ’n onverdoelde drie gesorg. Briljante spanwerk tussen die agterry het die bal in Fillis se hande besorg en hy het oopgelê doellyn toe. Myburg het die drie verdoel om die telbord na 39–15 op te stoot.
LEES OOK: Vollies embark on Groot Stap from Rayton to Cullinan
Fillis het die laaste sê in die wedstryd gekry met nog ’n drie by die pale wat Myburg maklik verdoel het. Die wentelling was 46-15 in Sasol se guns.
Sasol Grip & Rip se tweede span het hul wedstryd met 31–10 gewen. Hul drie-drukkers was André Schwab, Fanafuthi Motloung, Danru Bosman en Ronnie Tshabalala wat twee keer die doellyn besoek het. Rudolf Pretorius het van die drieë verdoel.
Sasol Grip & Rip speel op 5 Augustus in die eindstryd van die Premiersliga teen Barberton op Barberton. Hul hoofafrigter, Lodewyk Uys, het gesê die hele seisoen word eerskomende Saterdag bepaal.
“Al het ons so goeie seisoen gehad tot dusver, as ons nie Saterdag die laaste hekkie klim nie, is alles ter vergeefs.”
https://www.citizen.co.za/ridge-times/324744/galery-sasol-klop-witrivier-in-halfeindstryd/





