Local sportStreeknuus

Bronkhorstspruit Rolbalklub bereik groot hoogtes

“Dit was vir my groot skoene om vol te staan en sonder elkeen se hulp sou ons dit nie kon regkry nie.”

Bronkhorstspruit Rolbalklub se president, John O’Connell het pas hul jaarverslag bekend gemaak.

Daarvolgens was geleenthede benut om nuwe lede te werf en die klub te ontwikkel.

Die klub het selfs van vakansiedae gebruik gemaak om bewusmaking te bevorder en geldinsamelings is gehou.

Johan Liebenberg het ’n sangaand gehou en daar was feestelik saam gekuier.

Die rolbalklub het verder twee baie suksesvolle besigheidsligas aangebied en ander klubuitnodigings was ook goed ondersteun, onder andere Nelspruit se Jock-toernooi, Meyerspark, die Lynnwood-vierhoekreeks en die Witbank geldinsameling.

Die klub het verder teen Delmas gespeel waarna Bronkhorstspruit as wenners uit die stryd getree het.

“Dankie aan elkeen wat ons toernooie bygewoon het,” het O’Connell gesê.

Van die lede het verder ook die klub se naam hoog gehou tydens ander geleenthede.

John O’Connel saam met die mans pare-kampioene, Johan Swart en Johan le Roux.

Manie Engelbrecht is as die nuwe kampioen by die ATKV gekroon en Bob Vaughan het sy merkkursus op Tshipese voltooi.

Bronkhorstspruit se lede het ook vir die eerste keer aan die Gauteng Ope deelgeneem en meen dit was baie goeie blootstelling.

Daar was ook baie nuwe verwikkelinge en ’n besproeïngsstelsel is op Baan B aangebring.

Harde werk is ingesit om die baan gelyk en op standaard te bring. Die klub spog verder met ’n splinternuwe afdak en geplaveide stoep.

“Dankie ook aan almal wat in die agtergrond gehelp het met raad en ondersteuning tydens die bou hiervan, in besonder aan Manie Engelbrecht.

John O’Connell (president van die Bronkhorstspruit Rolbalklub) oorhandig die pesidentsbeker aan Johan Swart.

Sonder sy jarelange positiewe verhouding met die stadsraad, sou ons verlore gewees het,” het O’Connell ook gesê.

Die klub wou vir Engelbrecht uitsonder en die huidige bestuurspan het besluit om die stoep die ‘Manie Engelbrecht Stoep’ te doop.

“Jou besondere verhouding met ons Hemelse Vader is vir ons ’n ware voorbeeld en inspirasie.”

“Dit was vir my groot skoene om vol te staan en sonder elkeen se hulp sou ons dit nie kon regkry nie.

“Dankie aan Johan le Roux en Melinda Landman vir hulp by die kroeg. Die syfers is ’n bewys van uitstekende werk.

“Dankie aan Marcelle Potgieter en Christi le Roux met hulp rakende die finansies. Dankie ook aan Norene Liebenberg vir ’n klubhuis wat altyd netjies en skoon is.”

John O’Connel en die vroue pare-kampioen, Santie Dalgleish. Norene Liebenberg was afwesig toe die foto geneem is..

Die klub is verder ook positief oor die jaar wat voorlê en meen dat Bronkies se klublede se positiewe gesindheid, gewillige samewerking en onderlinge ondersteuning aan mekaar die resep vir sukses is.

Die klub oorhandig jaarliks ’n spesiale beker aan iemand wat nie net by die klub betrokke is nie, maar wat méér doen as wat verwag word.

“Het die Egiptenare die piramides gebou of het die piramides die Egiptenare gebou? As dit nie vir die piramides was nie, sou ons nie vandag geweet het wie die Egiptenare was nie. As dit nie vir die bane en infrastruktuur was nie, sou niemand van ons geweet het nie,” het O’Connell voor die oorhandiging gesê.

Die presidentsbeker is aan Johan Swart oorhandig.

“Baie dankie vir al jou hulp, jy is aan die diep kant ingegooi en het geswem soos ’n Olimpiese swemmer.

“Dankie ook vir jou hulp met die afdak. Vir etlike weke het jy elke dag vanaf 07:00 tot 18:00 en soms later, op die baan gewerk.

John O’Connel en Adri van Wyk, vroue-klubkampioen.

“Nuwe braaiers is tot voordeel van almal gebou. Ek waardeer elke oomblik van jou tyd.

“Baie dankie aan elke lid van die Bronkhorstspruit Rolbalklub. Groot dank ook aan die huidige bestuur.

“Aan die nuwe bestuur wat verkies gaan word, wens ek alle sterkte toe.

“Ek glo dat die klub na die volgende merk sal kan opskuif. Hou ons Hemelse Vader altyd naby. Sodoende sal ons verseker al ons doelwitte bereik.”

“Ons dank aan ons Hemelse Vader vir gesondheid en seën op ons werk, vir gesellige samesyn, vir interessante wedstryde en genoeg uitdagings,” het O’Connell afgesluit.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button