Breiwerk begin by Sasol rugbyklub
’n Vriendskaplike rugbydag word op 24 Februarie aangebied.
Hoewel die rugbyseisoen eers in Mei afskop, het die spelers van die Sasol Grip & Rip Rugbyklub reeds die litte al begin losmaak.
Die klubbestuur het aan die einde van verlede jaar hul doelwit om binne die volgende drie jaar een van die top klubs in die land te word, aangekondig.
Ridge Times het Donderdag met die oefensessie by die klub gaan inloer en besef dat die spelers toegewyd is om dié doelwit te verwesenlik.
“Die voorseisoen het reeds in die middel van November begin met die oog daarop om teen Paasfees vir die 2024 seisoen gereed te wees,” het die hoofbreier, Lodewyk Uys, verduidelik.
Die spelers is dus al klaar gereed vir hul eerste kragmeting oor twee weke teen Vereeneging.
“Ons bied ’n vriendskaplike rugbydag op 24 Februarie aan,” het Uys vertel.
Daar is agt spanne wat dié Sasol Rugbydag op Sasol se tuisvelde gaan meeding en beloof om ‘n dag vol pret te wees.
Ermelo 1 skop om 11:30 teen Standerton 1 af.
Bethal 1 en Vereeniging o20 draf om 13:00 op die veld.
Sasol 2 en Vereeniging 2 kom om 14:30 teen mekaar te staan.
Sasol 1 en Vereeniging 1 pak mekaar om 16:00.
Die publiek word genooi om dié dag se rugbyskouspel by te woon en hul plaaslike spanne te ondersteun.








