Local sport

Standerton Sables maak reg vir seisoen

Rugby is weer aan die brand op die dorp.

Die Standerton Sables Rugbyklub is aan die brei om hul titel as wenners van die burgemeestersliga (Mayors League) in die komende seisoen te behou.

Dié klub het verlede jaar, ná etlike jare van rugbydroogte, weer op die been gekom en onder die afrigting van WJ Smith het die span die ligaleer geklim tot by die eindstryd waar hulle met Ermelo afgereken het.

Volgens die klub president, JT Eksteen, is die spelers gretig om hul sukses voort te sit.

“Die manne het nie gaan slaplê ná hul oorwinning nie. Ons het bly oefen en het intussen ook al ’n paar vriendskaplike wedstryde gespeel.”

Eksteen glo daar is baie potensiaal en verskeie spelers blink uit, soos agsteman Hugo Beeslaar wat vir die o23-Bokkietoernooi gekies is.

Volgens Eksteen was die behoefte en belangstelling groot om weer ’n klub te begin.

“Die dorpsmense het verlede jaar bewys dat hulle ook uitgehonger vir rugbyaksie was en die pawiljoen was vol toeskouers met die liga eindstryd.”

Die klub se nuwe bestuur is Eksteen as president, Bronwen Pretorius as adjunk, Desireé Prenzter as sekretaris, Tiaan Otto as spanbestuurder, Eben Cornelius as hulp spanbestuurder, Willem Prinsloo as hulp afrigter en Morné Otto, Marizette Allers, Skolla Pieters, Tommy Gleeson en Benna Groenewald as addisionele lede. Hul plan is nou om die klub uit te brei, maar daarvoor het hulle meer spelers en beslis meer borge nodig.

“Ons is dankbaar vir die borge wat ons reeds goedgesind is, maar ons hoop om meer in te kry.”

Eksteen is opgewonde oor die nuwe klubhuis wat op die kaarte is.

“Ons onderhandel met die krieketklub om die gebou by die krieketbaan as klubhuis oor te neem. Dis naby genoeg aan ons oefenveld,” het Eksteen verduidelik.

Die Sables gebruik Hoërskool Standerton se veld en geriewe om op te oefen en wedstryde te speel. Hulle oefen elke Dinsdag en Donderdag vanaf 18:00.

Die Standerton Sables speel hul eerste ligawedstryd op 27 April teen Mhluzi in ’n wegwedstryd. Die daaropvolgende wedstryd sal op Standerton gespeel word.

Die Sables kom dan teen Kriel te staan. Die wedstryd skop om 15:30 op die A-veld van Hoërskool Standerton af.

As jy belangstel om by die rugbyklub in te skakel as speler of as borg, skakel Eksteen by 083 261 5220 of Bronwen Pretorius by 072 712 6048.


Related Articles

 
Back to top button