Voetganger gewaar man se liggaam in die Bronkhorstspruitrivier
“Na die liggaam uit die rivier gehaal was, is daar gevind dat hy ’n groot wond aan die linkerkant van sy kop het,” het konst. Munyadziwa Ramovha, kommunikasie-offisier vir die Bronkhorstspruit Polisie, gesê.
Die liggaam van ’n man wat in die Bronkhorstspruitrivier dryf, is op Sondag, 10 Oktober deur ’n verbyganger opgemerk.
Volgens die Bronkhorstspruit Polisie, is die lyk vanaf die eenrigting-brug in Lanhamstraat gewaar.
Al die betrokke nooddienste was op die toneel.
Polisie-duikers van die Pretoria se watervleuel, adj.-off. Barend Marais en adj.-off. Christo Prinsloo, beide woonagtig in Bronkhorstspruit was na die toneel ontbied.
Die man is deur die duikers uit die rivier gehaal en is op die toneel deur Bronkhorstspruit se nooddienste dood verklaar.
“Na die liggaam uit die rivier gehaal was, is daar gevind dat hy ’n groot wond aan die linkerkant van sy kop het,” het konst. Munyadziwa Ramovha, kommunikasie-offisier vir die Bronkhorstspruit Polisie gesê.
Volgens ’n betroubare bron, was dit duidelik dat die liggaam reeds vir ’n geruime tyd in die water was voordat dit na die oppervlak gebring is.
Die liggaam was teen druktyd nog nie geïdentifiseer nie.
Die onbekende man was geklee in ’n blou oorpakbroek en bruin baadjie.
Die Bronkhorstspruit Polisie doen ’n beroep op die publiek om, sou hulle oor enige inligting rondom die man se identiteit of die voorval beskik, na vore te kom.
Die polisie kan by on 013 932 9201 of 013 932 9222 geskakel word.



