Nesher se Familieloop sorg vir groot vermaak
Na afloop van die stappery by Nesher Privaatskool in Eloff het leerders en besoekers sommer dadelik die avonture op die seepglybaan en springkasteel uitgetoets. Daar was verskeie stalletjies en almal kon heerlik smul aan worsbroodjies, hoender kebabs, springmielies, yskoue koeldrank, kolwyntjies en vele meer. Die perdry was ook weer baie gewild en kruiwastoot was deel
’n Pretloop, seepglybaan, springkasteel, perdry, koue koeldrank en lekker worsbroodjies was die wenresep by Nesher.
Nesher Privaatskool op Eloff het weer hul immer gewilde Familieloop op Saterdag, 6 November, aangebied om geld vir die skool se beplande nuwe ablusieblok en klaskamers in te samel.
Die oggend het afgeskop met die 4.9km-pretloop.
Zane van Onselen het gewen.
Die eerste vrou wat klaargemaak het, was me. Pretty Thandi Ngoma, die eerste seun was Fourie Smit, die eerste dogter, Buhle Mathenjwa, die jongste seun, Gosiane Mabelane (4) en die jongste dogter, Janelrie Randall (6).
Die ouer garde het egter nie teruggestaan nie en me. Kuabelisha Rafdebe (66) het met die wen vir die oudste vroulike deelnemer weggestap.
Mnr. Raymond Tack (59) het die prys vir die oudste man ontvang.
Die beste geklede deelnemers het aan die trio, Abigail Venter, Ru-anne Venter en Elshenique du Preez gegaan en vir die meeste inskrywings het Jordan de la Rey ’n prys ontvang.
Na afloop van die stappery het leerders en besoekers sommer dadelik die avonture op die seepglybaan en springkasteel uitgetoets.
Daar was verskeie stalletjies en almal kon heerlik smul aan worsbroodjies, hoenderkebabs, springmielies, koeldrank, kolwyntjies en vele meer.
Die perdry was ook weer baie gewild en kruiwastoot was deel van die aktiwiteite van die dag.
Sonet Shields, ook bekend as DJ Performer, het vir die vermaak gesorg en daar was sommer ook ’n paar danspassies uitgevoer.
Heelwat pryse was deur die loop van die dag uitgedeel.
“Die Familieloop was ’n feestelike en genotvolle sukses vol pret-aktiwiteite,” het me. Lizette van Onselen, hoof by Nesher Privaatskool gesê.
“Ons bedank graag ons borge Frisia Ice, Alpha Slaghuis, Funtazia, Rebel, Sonet Shields en SANBS. Nesher is nou ’n stap nader aan die nuwe klaskamers.”
“Dankie aan al die stappers, sonder julle sou die dag nie kon plaasvind nie.
“Volgende jaar maak ons beslis weer so,” het me. van Onselen afgesluit.
















