Streeknuus

Delmas se rolbal-besigheidsliga gewilder as ooit

Daar het in totaal 14 plaaslike besigheidspanne vir vanjaar se kompetisie ingeskryf.

’n Gewilde sosiale rolballiga op Delmas wat vanjaar weens die Covid-regulasies tot ’n latere datum uitgestel moes word, het weer afgeskop.

Die Besigheidsliga word jaarliks aangebied en sakeondernings in die omgewing ding dan mee om as die wenner uit die Besigheidsliga te stap.

Dit was weer ’n miernes van bedrywighede op die Delmas Rolbalklub se baan op Woensdag, 3 November, want die gereelde deelnemende spanne was dus behoorlik uitgehonger vir die kompetisie en sosiale verkeer.Sommer met die intrapslag was die gees daar, want hoewel hierdie liga baie ernstig opgeneem word, was die pret en goeie gees tasbaar op die baan.

Larizza Steup wys dat sy deelneem om te wen.

Daar het in totaal 14 plaaslike besigheidspanne vir vanjaar se kompetisie ingeskryf.

Dié spanne speel dan oor ’n tydperk van vier weke teen mekaar, waarna die span wat bo aan die puntelys eindig as die wenner uit die stryd tree.

“Ons sien baie uit na die drie weke wat voorlê, dit beloof weer om baie pret te wees,” het me. Karin Peres, president van die Delmas Rolbalklub na die eerste skof van die liga gesê.

Me. Peres het intussen ook alle voornemende spelers wat belangstel om by Delmas Rolbalklub aan te sluit, genooi om Vrydagaande te saam te kom balle rol.

Dit is informeel en daar sal iemand wees om belangstellendes tou wys te maak.

“Balle sal ook voorsien word. Die klub hoop om so nuwe belangstelling vir die sport by oud en jonk te kweek.

“Ons wil dit ook graag aan die publiek bekend maak dat rolbal ’n gesinsport is waaraan almal kan deelneem.”

Belangstellendes kan me. Peres by 082 496 3782 kontak.

Lees meer in volgende uitgawes van Streeknuus oor watter span as oorwinnaar uit die Besigheidsliga stap.

Elna Schoeman in aksie tydens die afskop van die Besigheidsliga by Delmas Rolbalklub.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button