Streeknuus

Huisbrand buite Bronkhorstspruit trek gesin plat

“Ek lê nou, maar ek sal weer opstaan. God gee krag na kruis”

Me. Cora Macdonald se trane het vlak gelê toe sy vertel het hoe alles wat hulle met jare se swaarkry bymekaar gemaak het, in ’n kwessie van enkele minute verwoes is.

 en haar gesin van vyf woon die afgelope twee jaar op die plot, Wag ’n bietjie skop, sowat 4km buite Bronkhorstspruit op die Balmoralpad.

As ’n weduwee wat 15 jaar gelede haar man verloor het, het me. Macdonald vertel dat haar kinders al is wat sy oor het.

Haar seun het omstreeks 18:45 op Donderdagaand, 11 November, vlamme teen die watertenk sien weerkaats en geskree: “Die huis brand!”

“Ek wou net die vensters begin toe maak en ek het aanvanklik nie dadelik geregistreer nie, want dit klink so onwerklik, byna asof dit ’n grap kan wees.

“Vóór ek nog by my voordeur kon uitkom, het die vlamme al by die trappe getrek. Ek het die buurvrou om hulp geroep en sy het die brandweer en brandvereniging geskakel.”

Haar seun, Martin, en sy verloofde, me. Liezel Louw, het van die boonste verdieping se balkon tot op hul voertuig gespring om van die vlamme af weg te kom.

Die vyf slaapkamers en twee groot badkamers is in die vuur vernietig.

“My seun se verloofde het brongitis en het in een van die kamers op die boonste verdieping geslaap.

“Martin het brandwonde opgedoen en plek-plek op sy arm gebrand. Sy heup wat geopereer is en wat hom al jare probleme gee, is nou erger weens die sprong van die balkon af.”

Met die geskarrel om die vuur te probeer blus, moes hulle egter hulpeloos toekyk hoe die huis afbrand omdat daar nie water in die kraan was om enigsins te red wat in die vuur vasgevang was nie.

“Ek het maar net my medikasie, handsak en my papagaai gegryp en gehardloop. Ek is net dankbaar dat daar nie lewensverlies is nie.

“Ek was verskrik en geskok, maar dit vang my eintlik nou eers.”

Die oorsaak van die brand is steeds onbekend, siende dat daar nie kerse of lampe in die vertrekke was wat vlam kon vat nie.

“Die bedrading in die huis is nie baie goed nie en my seun was besig om sy battery te laai, so ons weet nie of die battery dalk ontplof het nie,” het me. Macdonald verduidelik.

“Dit is die derde gebou wat al op die plot gebrand het,” het me. Macdonald bygevoeg.

Die gesin het sowat R60 000 se skade van die meubels en linne wat gebrand het, opgedoen.

“Dit is aardse dinge. Ek gaan dit nie eendag saam met my vat nie, maar dit is net bitter ongemaklik en swaar.

“Gewoonlik sal ek een wees wat gee en nou moet ek vra. Dit maak dit moeilik om ander in die oë te kyk.”

Me. Macdonald is ook met ver gevorderde emfiseem gediagnoseer en is ook intussen afgedank.

“Ek probeer hulp kry van alle oorde af wat ek so innig waardeer. Ek is so dankbaar daarvoor.

“Ek kan die Here nie genoeg dank vir die hulp wat ek ontvang het nie.

“Klere het ons baie ontvang.

“Ons benodig net linne, kos en dalk ’n groot seil waarmee ons die dak kan bedek vir wanneer dit in reën.

“Net dat mens weer ’n begin kan maak,” het me. Macdonald gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button