Hoërskool Delmas wy Poort na Sukses in
Die klas van 1978 het vir die oorgedoende hoofingang by die skool betaal.
Daar het 34 jaar verloop sedert die matrieks van 1978 van Hoërskool Delmas die skoolterrein vir die laaste keer verlaat het.
Vir sommige was die terugkeer onvermydelik, want hul eie kinders het ook daar skoolgegaan, gematrikuleer en volwassenes geword.
Vir die klas van ’78 kon dit dus nie anders as om ’n blywende merk op hulle geliefde alma mater se gronde te wou laat nie.
Dié klas het vir die oorgedoende hoofingang by die skool betaal.
Dié nuwe ingang is amptelik met ’n seremonie op Vrydag, 12 November, ingewy.
Ná mnr. Peet Engelbrecht, adjunkhoof, die seremonie met skriflesing en gebed geopen het, het mnr. Riaan Grobbelaar aan die beurt gekom.
Volgens mnr. Grobbelaar het die oud-leerders van die ’78-klas hom in 2018, tydens hul reünie-beplanning, genader.
“Dié oud-leerders wou iets blywend aan die skool teruggee.
“Ons kon ons drome en ons planne met hulle deel, onder andere die hek-projek.”
Daar was onder andere tydens die klas se 40-jaar matriek-reünie met behulp van ’n veiling geld bymekaargemaak en die bal was aan die rol.
“Daar was baie beplanning rondom die projek maar in 2020 het die Covid-19-pandemie ’n rem op die projek geplaas.
“In 2021 was die projek uitgerol en spog Dellies nou trots met die veiligheid en pragtige aansig van ’n nuwe hoofingang.”
Verteenwoordigers van die ’78-matrieks wat die geleentheid bygewoon het, was mnr. Gys Taute, mnr. Pieter Visser en me. Helinda Neuhoff-Oosthuizen (oud-hoofmeisie).
As spesiale vergunning, het me. Alta Dannhauser die skoene van haar oorlede man, mnr. Philip Dannhauser (oud-onderhoofseun) wat in 2019 skielik oorlede is, vol gestaan.
In ’n emosionele oomblik was daar ook hulde aan mnr. Dannhauser gebring.
Die oud-leerders het ook tydens die geleentheid erekleure van Hoërskool Delmas ontvang.
Mnr. Dan Enslin, wat vir hierdie groep skool gegee het en steeds op die personeel van Dellies dien, het ook die verrigtinge bygewoon.
Mnr. Visser het ’n toespraak gelewer waarin daar baie herinneringe gedeel is.
Die huidige hoof, mnr. Cas Badenhorst, het die ’78-matrieks se hoërskoolloopbaan op toepaslike wyse met die gaste gedeel vanuit die skooljoernaal soos bygehou was deur skoolhoofde gedurende dié tydperk.
Hierna is die nuwe hoofingang, hek 1, genoem ‘ Die Poort na Sukses’, amptelik ingewy en die plaat deur die drie oud-leerders wat teenwoordig was, ont.
Die skoolbestuur het me. Dannhauser, wat verantwoordelik vir die onthullingsreëlings was, bedank.
“Ons loof die matrieks van 1978 vir hul oop hand en lojaliteit teenoor hul alma mater.”






