Lego-klub besoek Delmas
Die uitstalling en kompetisie gaan egter nie net oor die bevordering van die Lego-naam nie, maar ook oor die uitreik na gemeenskappe.
Die bekende teenwoordigheid van Lego-blokkies in ’n plastiese emmertjie is vir baie ’n aangename herinnering aan sorgelose kinderdae.
Lego’s is egter nie meer net blokkies aanmekaar sit en blok-huisies bou nie. Dit het in ’n eindelose put van moontlikhede en uitdagings vir oud en jonk ontwikkel.
Die Johannesburgse Lego-klub (JHBLU) onder voorsitterskap van me. Nadeya McGee, het op Saterdag, 13 November, vir groot vermaak en spanningsvolle spoedbou-kompetisies in die saal van Laerskool Delmas gesorg.

Daar was ook asemrowende uitstallings van lede van die klub, wat gewissel het van kastele, oorlogstonele, droom-fantasietonele vir jong dogters, skilderye en baie meer.
Besoekers het van ver en wyd gekom om uit te stal, te bewonder en aan kompetisies deel te neem.
Daar was Lego-boukompetisies vir jonk en oud aangebied waarin ’n houer met Lego-stukke sowel as instruksies aan elke deelnemer oorhandig was.
Die wat die artikel eerste binne ’n sekere tyd kon voltooi, het met groot pryse, in die vorm van Lego-stelle, weggestap.

Die uitstalling en kompetisie gaan egter nie net oor die bevordering van die Lego-naam nie, maar ook oor die uitreik na gemeenskappe.
Vanuit die kaartjieverkope gaan ’n deel na die skool, terwyl die oorblywende net so teruggeploeg word vir liefdadigheid.
“Soos met soveel ander bedrywe in die land, was ons beweging baie ingeperk te midde die Covid-19-pandemie en was ons glad nie toegelaat om uit te stal nie,” het mnr. Fanie van Graan, organiseerder gesê.
“Die uitstalling en kompetisie by Laerskool Delmas was die eerste in twee jaar en ’n absolute voorreg vir JHBLU. Deur ons uitstallings en gemeenskapsbetrokkenheid poog ons om die jongelinge te inspireer om die eindelose moontlikhede van die Lego-stokperdjie te leer en te ontdek.”

Na afloop van die kompetisie en uitstalling was menige kinders, en hul ouers, se drome vir daardie perfekte Kersgeskenk, vasgepen – ’n Lego-stel om die sorgelose Kersvakansie om te bou.
Vir die wenners was daardie droom egter reeds bewaarheid, want elk van hulle het met ’n praggeskenk van Lego weggestap.
Laerskool Delmas hoop om hierdie uitstalling en kompetisie weer en op ’n meer gereelde basis vir die gemeenskap te doen.




