Dié boogskutter van Bronkhorstspruit is in die kol
“Die oomblik wanneer jy op daardie streep gaan staan, moet die wêreld kan vergaan en jy wil niks daarvan weet nie.Dis net jy, jou God en jou boog.”
Nico Benson van Bronkhorstspruit het op 43-jarige ouderdom begin boogskiet en hy palm nou, 17 jaar later, steeds die pryse in.
Hy het ’n tradisionele handgemaakte boog uit moerbeihout gemaak vir ’n linkerhandskut, alhoewel hy regshandig is.
“Vandag kyk ek terug. My kleinseun is links en die boog sal nou aan hom behoort. Hy sal met die boog leer skiet.”
In 2004 het hy ’n handvol boë gemaak omdat hy net soveel aanvoeling daarvoor het en om een van die rak af te koop sal net nie noodwendig dieselfde voel nie.
“As ’n mens nie passievol daaroor is nie, sal jy nie agt ure bestee om ’n self-gemaakte boog van hout te maak nie,” het hy laat hoor.
Sy tuin staan vol teikens en soos hy oor die boogskiet ervaring praat, dink hy terug aan waar die jagter in hom gebore is.

“Ek het op die plaas groot geword. Ons het daar met ketties en pyle en boë gejag.
“Destyds het ons rosyntjiebessie-latte gebruik om ’n boog te maak met sommer ’n stukkie vislyn. Die pyle het ons gemaak van fluitjiesriet of ’n lang kakiebos wat droog geword het.
“Dan slaan jy sy punt met ’n spyker plat en sit vir hom tarentaalvere met vyeboomgom aan. Dit is dan jou pyle.”
Die boogskietliefde is dikwels ook jag-georiënteerd, veral toe hy op agt sy eerste haas geskiet het met ’n boog wat hy self gemaak het.
Jare later het die 3D-boogskiet Benson se aandag getrek en die res is geskiedenis.
Destyds het hy nog ooit met ’n kragboog geskiet nie en hy het toe sy eerste boog by ’n winkel gekoop waarmee hy vandag steeds kompeterend deelneem.
Benson het in 2016 ’n groot jaar beleef en verskeie medaljes en pryse verower.
“Ek het my Noord Transvaal-kleure verower. Ek het my Springbok-kleure en SA-kleure ook gekry.”
Volgens Benson is dit ’n jaarlange proses om dié hoogtepunte te bereik. Dit is gemik op presisie, konsentrasie, hand- en oogkoördinasie en veral sportmanskap.
“Jy moet heel jaar lank bo 80% skiet in die verskeie kompetisies waaraan jy deelneem. Jou jaarlikse gemiddeld mag nie minder as 194 wees in die MCA-klas waarin ek skiet nie.”
Benson het al landwyd deelgeneem.

Hy neem onder andere in Triple Crown, ASA en 3D-skietkompetisies deel en is dikwels een van die 10 beste boogskutters in die land.
Die hoogtepunt wat Benson uitsonder, is beslis die vriendekring wat uitgebrei het deur gesamentlike passies wat gedeel is en weens die sport het hy vriende van heinde en verre.
Boogskiet is volgens Benson, ’n aangeleerde sport en tegniek, veral met ’n meganiese boog.
“Die ding van skiet is om alles elke keer presies dieselfde te doen.
“Dit is hoe jy resultate kry. Maak nie saak as jy ’n ingeoefende fout of natuurlike metode het nie, solank jou boog volgens dit ingestel is, sal jy elke keer presies dieselfde skiet, want dit is ’n fout wat in jou stelsel is.
“Jy probeer ook nie om sulke goed te verander nie, want dan moet jy onthou hoe jy jou hand moet draai en as jy dit vergeet, dan skiet jy ’n swak skoot.”
Benson het al menigmaal nasionaal en internasionaal in verskillende sportvelde deelgeneem.
Hy het selfs Noord Transvaal-kleure en Verre Noord-kleure in amateurstoei.
“Ek het al teen die Kanadese en Amerikaners gestoei,” het hy vertel.
Hy het ook al Oos en Noord Transvaal-kleure in rugby, sowel as Noord Transvaal- en erekleure in atletiek verower.
“Die oomblik wat ek iets aanpak, doen ek dit voluit. Ek is ’n passievolle mens. Ek doen niks halfpad nie.”
Sy wenresep word in een woord opgesom: oefen.
“As jy dink dat jy klaar geoefen het dan oefen jy sommer weer.”



