Cullinan-naaldwerker maak eie-soortige Kersvaders
“Die Kersvader met die lang arms en bene is my dudu-dollies waarmee babas of klein kinders slaap.”
Me. Christa Murray van Cullinan se hande staan vir niks verkeerd nie.
Sy is al immers besig met naaldwerk vir 30 jaar en het voor die naaldwerkmasjien haarself nog altyd met haar ouma wat voortou neem, uitgeleef.
“My ma en ouma het beide naaldwerk toegepas en ek het altyd by hulle gekyk en gevolg op wat hulle gedoen het. Van daar af het die passie ontwikkel en het mode-ontwerp my beroep geword.”
As skoolkind het sy gehou van mooi aantrek en om gereeld klere te verander sodat dit by haar ingebore styl en persoonlikheid gepas het.
“Ek het altyd prentjies geteken en idees uitgedink wat mooi sal lyk as ’n mens dit sal dra.”
Me. Murry het ook mettertyd in trourokke gespesialiseer en het vir die Kersseisoen die Kersvadergesiggies aangepak, juis omdat dit oorspronklik is en oulik vertoon.

Enige materiaal, veral rekbare lap, word gebruik om die Kersvaders wat enig aan me. Murray is, te maak.
“Die Kersvader met die lang arms en bene is my dudu-dollies waarmee babas of klein kinders slaap en die ander is sommer net vir die mooi,” het sy laat hoor.
Haar Kersboodskap was om net in geloof te vertrou, ongeag hoe die omstandighede mag lyk en werklik te weet waarom Kersfees so belangrik is.
“Ons moet net vashou aan Pappa God se waarheid. Hy sal ons deur alle tye dra.”




