Streeknuus

Reën is moontlik nou té veel

Met die Hemel se sluise behoorlik oop gedurende Desember verlede jaar en Januarie vanjaar het die probleme egter begin kop uitsteek en het boere vanuit die omgewing begin om asem op te hou en gebede vir reën het verander na ’n dag of twee se sonskyn.

As daar een instrument is wat die boeregemeenskap goed ken, is dit ’n reënmeter.

Dis seker ook die instrument wat die afgelope paar weke die meeste dopgehou is toe die reën reeds vanaf Oktober hard en deurdringend begin val het.

Gedurende Desember was daar vele foto’s en video’s op sosiale media te sien van die mildelike reënval in groot dele van Suid-Afrika.

Jan Alleman het die wonders aanskou toe die eerste twee, en later nog drie sluise van die Vaaldam geopen is.

Vir menige was dit ’n seën, veral nadat verskeie dele van die land onder erge droogte gebuk gegaan het.

Mielielande in die Dryden / Groenfontein-omgewing. (Fotokrediet: Hommeltuig: Hendrik Snyman)

Vir groot dele van die land was daar egter reeds groot skade weens hael en gepaardgaande oorstromings.

Ook in Streeknuus se opvangsgebied het die reën, hard en deurdringend geval.

Gedurende November 2021 is ’n gemiddelde reënval van 200mm aangeteken, terwyl daar in Desember 142mm reën uitgesak het.

Teen druktyd was daar reeds 91mm reën vir Januarie in Delmas aangeteken.

“Vandeesmaand was daar sover nog net twee dae dat ek nie water uit my reënmeter gegooi het nie. Dit was op Maandag, 11 Januarie, en Dinsdag, 12 Januarie,” het ’n Delmas-inwoner Streeknuus meegedeel.

Vir boere wat vroeg geplant het, was die reën baie welkom, maar vir ander was dit haas onmoontlik weens nat en ontoeganklike lande.

Water vanaf Vleilaan in Delmas lei tot vespoelings van die Delmas Gholfbaan. (Foto: Verskaf)

Met die Hemel se sluise behoorlik oop gedurende Desember verlede jaar en Januarie vanjaar het die probleme egter begin kop uitsteek en het boere vanuit die omgewing begin om asem op te hou en gebede vir reën het verander na ’n dag of twee se sonskyn.

“Die mielies en sojabone lyk tans nog redelik goed en ons is geseën om nog nie haelskade of erge versuipings te gehad het nie,” sê ’n boer van Delmas-omgewing.

“Ons is opreg dankbaar vir die goeie reën, maar dit raak nou ’n bietjie te veel. Ons het nou son nodig, want as die son nie gou skyn nie, kan daar groot skade kom weens versuipings, veral vir die boere wat laat geplant het en wie se jong plantjies tans in die water staan.”

Dit is egter nie net die boere van die omgewing wat deurloop deur die uiterste nat weer nie.

Vir die dorpenaars van Delmas en omgewing het water ook verdere skade berokken aan die reeds onbegaanbare paaie in die omgewing.

Weens swak en verstopte stormwaterdreineringstelsels het sommige strate heeltemal oorspoel en is dit onbruikbaar.

Delmas se afloop voed ook die Bronkhorstspruitdam wat weer tot gevolg gehad het dat dié dam op Sondag, 9 Januarie reeds 106% vol was en gevolglik oorloop.

Die Delmas Gholfklub het ook behoorlik deurgeloop toe water dit op Sondag, 8 Januarie in ’n rivier verander het.

Die genadewater is egter nog nie op ’n einde nie, want die Weerburo sê hulle verwag dat die bo-normale reënweer weens die La Nina-verskynsel nog tot einde Maart sal voortduur.

Skade aan die Delmas Gholfklub duidelik sigbaar. (Foto: Verskaf)

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button