Streeknuus

Pensioentrekker knap Bronkhorstspruit se woonbuurte op

“As ons saamstaan, kan ons die dorpie mooi en netjies maak.”

Mnr. Wicus Enslin (77) van Goudpark Aftreeoord se liefde vir die natuur spreek nou selfs harder ná sy aftrede.

Dié voormalige ketelmaker het die inisiatief geneem om sy dorp op te knap.

Hoewel mnr. Enslin nog net vier jaar op Bronkhorstspruit woon, het sy behoefte om die dorp se blange op sy hart te dra aansienlik verbreed.

“Ek is onsettend ingestel op die natuur en lewe naby aan dit. Ek het gesien die bejaardes wat om die blok wil stap, kan nie op die sypadjie stap nie weens die bome wat so onversorg is. Toe begin ek om te sny en netjies te maak.”

Mnr. Enslin lewer ’n bydrae aan die gemeenskap sonder enige vergoeding.

Dit gaan vir hom oor die beginsel dat die omgewing waarin mense woon, leefbaar en versorg moet wees.

“Ek probeer om die dorp skoon te maak sodat mense kan sien daar gaan iets in die dorp aan. Dit moet die gemeenskappe verteenwoordig wanneer mens deur die strate van Bronkhorstspruit ry of stap.”

Mnr. Enslin se boodskap is dat veral die jeug betrokke moet raak en moet besef dat ’n mens in ’n omgewing moet woon wat skoon en vol suurstof is en as jy by jou voordeur uitstap, moet jy trots wees op wat jy sien.

Dus het mnr. Enslin al die hele suidekant van Eerstelaan verbeter met net ’n visie, sowat 32 swartsakke per week en ’n snoeisker in die hand.

“As daar inwoners is wat kans sien om vir my dalk ’n donasie te gee in die vorm van swartsakke, sal dit hartlik waardeer word.”

Dit neem mnr. Enslin ’n uur om die bome te sny en sowat drie ure om die sakke vol te maak en dit weg te neem.

Vir die afgelope maande is mnr. Enslin soggens om 06:00 al besig met sy blou Volla (Volkswagen Kewer) en waentjie waarin hy die afgesnoeide materiaal vervoer.

Daar is immers voordele met die helpende hand.

“Om te gee is ’n voordeel. Iemand moet dit doen en mens moet iewers begin. Ek kan nie stil sit nie. My hande moet vuil word.”

Daar is selfs die sogenoemde aasvoëls waarna mnr. Enslin verwys.

Die haweloose mense wat met hul plastiektrollies die dorp skoon maak.

“Daardie mense doen eintlik aan ons ’n guns al is dit vir hulle om ’n bord kos te verdien. Die dorp sou aansienlik erger vertoon het sonder hulle hande wat opruim om elke hoek en draai.”

Die karakter en trots wat gehervestig sal word deur middel van dié beweging is, volgens mnr. Enslin, een waarin die dorp se mense weerspiëel word.

“As jy ’n skoon oog het dan kan jy sien die plek is vuil. As iets nie reg is nie dan moet dit reggemaak word sover moontlik.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button