Streeknuus

Die Zusterstroompad noop ingryping

“Die twee paaie gaan basies opgevul en gekompakteer moet word,” het mnr. Kitching gesê.

Zusterstroom se ryk geskiedenis word verrineweer deur die toestand van die paaie daarheen.

Dié gebied kry sy naam van ‘n gesinsplaas in die kontrei waarop meestal dogters gewoon het. Dié geskiedenis is bykans so oud soos die berge daar rondom.

Die een pad daarheen is destyds deur die mense van die Trichardttrek deur ‘n poort genaamd Trichardtspoort uitgekap.

Daar is twee paaie na Zusterstroom waarvan een deur die poort is en een agter die berg. Beide is die lewensare van die gebied.

Die inwoners het voerkrale, wildsplase, gastehuise en groot onthaallokale soos Meulstroom.

Die pad by Meulstroom maak ‘n T-aansluiting. Meulstroom is waar die gemeenskap vroeër meel gemaal het met die waterwiel wat steeds daar is.

’n Gevaarlike oorhang.Daar is losklippe teen erosiewalle wat bly afrol.

Beide hierdie paaie dra baie verkeer daagliks. Die grondpad deur die poort is 18km lank waarvan sowat 15km in ‘n baie slegte toestand is.

Die roete agter om die berg is nog langer.

Minstens 15 waterpype op daardie ent pad is reeds stukkend geskraap wat veroorsaak dat voertuie se bande stukkend gesteek word.

“Daar is geweldige groot rotse wat in die paaie vassit en wat nou met springstof of groot slagbore gebreek moet word.

“Dié rotse beskadig motors se oliebakke en stuurstelsels,” het mnr. Fanie Kitching,’n inwoner, laat hoor.

Verskeie ongelukke het die laaste paar jaar hier plaasgevind weens die slegte pad.

“As ek moet skat, was daar ten minste 10 ongelukke die afgelope vyf jaar.”

Stofwolke hang in die lug op Zusterstroompad.

Gewone gesinsvoertuie is gereeld hul modderskerms kwyt weens die sinkplaatgroewe op die pad.

Dan is daar boonop twee gedeeltes op dié pad wat soos stofbaddens is.

Wanneer’n voertuig daar ry, hang ‘n stofwolk in die poort vir bykans 10 minute.

“Dit is uiters gevaarlik, veral vir besoekers wat nie die omgewing ken nie. Dit is ‘n risiko om saans op enige een van die twee paaie te bestuur,” het mnr. Kitching gesê.

Zusterstroom se inwoners stoei daagliks met die probleem dat die bogrond van die paaie weggespoel is omdat die departement van provinsiale paaie dit na bewering verkeerd skraap.

Me. Lida Erasmus, DA-aktivis en wyksekretaris, het in Oktober die provinsiale oorsigkomitee geneem om na die pad te kyk.

Die Gautengse LUR van Paaie en Vervoer, mnr. Phalama Jacob Mamabolo, het beloof om die pad se herstel die volgende aansprekingspunt op die departement se lys te maak.

“In plaas van skraap om water uit te keer, is walle op die kante gelos wat die paaie in riviere verander het. Erosie vind oral plaas en die pype wat water uitkeer, is stukkend geskraap.

“Die versterkingsmateriaal in die pype steek tans meeste voertuie se bande stukkend, wat weer lei tot verdere veiligheidsprobleme.” het mnr. Kitching verduidelik.

Motorbande kry swaar op hierdie pad.

Om die pad te skraap, is nie meer ‘n opsie nie, want daar is nie meer materiaal om die pad op te vul nie.

Volgens mnr. Kitching is daar elke keer wanneer die pad geskraap word, vragte vol nuwe skerp klippe wat bande sny en vensters tref.

Die inwoners kla al sedert 2001 hieroor.

Nuwe bogrond moes jare gelede al ingery gewees het.

“Die twee paaie gaan basies opgevul en gekompakteer moet word,” het mnr. Kitching gesê.

Hy is egter nie ten gunste van ‘n teerpad deur dié gebied nie.

“Sou die pad geteer word, gaan dit ‘n geweldige probleem veroorsaak. Daar gaan meer voertuie en taxi’s deur die gebied beweeg, terwyl hier baie wild tans langs die grondpaaie is en baie trekkers en vragmotors op die plase is.”

Mnr. Kitching meen die misdaad in die gebied gaan ook dan styg.

“Ek sê geensins dat ‘n teerpad nie voordele het nie. As die grondpaaie nie teen ‘n fraksie van ‘n teerpad onderhou kan word nie, hoe gaan teerpaaie herstel en instand gehou word?”

Die herstel van die grondpad word verder bemoeilik omdat een deel daarvan in Gauteng en ‘n ander gedeelte in Mpumalanga is.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button