Streeknuus

Gholfstokke hang halfmas na groot skade aan Delmas se gholfbaan

Die eens lowergroen en goed versorgde setperke is nou net ’n moddermassa.

Die immer gewilde nege putjie-gholfbaan op Delmas is bekend daarvoor dat dit oor die jare heen deurloop wanneer swaar reën in die gebied uitsak.

Vanjaar is dit nie anders nie, dit is inteendeel erger as ooit vantevore.

Om dinge te vererger, vloei die Bronkhorstspruit deur die baan.

Dit bring verder mee dat die gholfbaan by tye verspoel.

So is dit dan dat Delmas se gholfbaan reeds vir die afgelope ses weke nie meer vir spelers toeganklik is nie.

Die gholbaan op Delmas kan weens aanhoudende reën en gevolglike oorspoelings vir die afgelope ses weke nie meer gebruik word nie.

Die eens lowergroen en goed versorgde setperke is nou net ’n moddermassa.

Dit is ’n hartseer toneel vir spelers en inwoners van Delmas.

Die gholfbaan word deur Vleilaan in twee dele geskei en beide kante is byna heeltemal oorspoel.

Op ’n vraag aan die voorsitter, mnr. Piet Cronjé, oor wat die toekoms inhou, was die antwoord: “Die skade is baie erg. Ons kan glad nie meer speel nie.

“Ons het baie planne, maar dit is nie tans uitvoerbaar nie.

“Reën word nog tot en met middel Maart voorspel. Dit maak enige beplanning vir die korttermyn baie moeilik.”

Volgens mnr. Cronjé, gaan die bestuur en getroue ondersteuners en spelers egter nie opgee nie.

Die gholbaan op Delmas kan weens aanhoudende reën en gevolglike oorspoelings vir die afgelope ses weke nie meer gebruik word nie.

Hy doen ’n beroep op die inwoners van Delmas om die klubhuis te ondersteun.

“Ons het nou ons mense baie nodig.

“Kom drink of eet iets en help om ons plaaslike gholfklub aan die lewe te hou. Ons maak nou staat op ons mense om ons deur die moeilike tyd te help dra deur ons te kom ondersteun.

“Dit was oor die jare heen nie net ’n gholfbaan nie, dit was ook die samekoms- en kuierplek van menige mense.

“Ons sal weer opstaan, van voor af begin en heel anderkant uitkom,” het mnr.. Cronjé gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button