Streeknuus

Dokters diagnoseer tiener van Bronkhorstspruit met breinkanker

“Donasies en oop harte vir sestien jarige seun se stryd teen kanker.”

Hoekom? Dié vraag maal heeltyd in Cecilia van Zyl van se kop.

“Ek het sewe jaar gelede my jongste aan die dood afgestaan. Ek kan dit nie weer doen nie,” het sy gesê ná haar oudste seun, Rick, verlede naweek met fase 2-breinkanker gediagnoseer is.

Baba Regart was net vyf dae oud toe hy aan ’n hartgebrek dood is.

Nou staar die Van Zyl-gesin weer dié vrees en hartseer in die oë, maar Cecilia hou vas aan haar geloof.

“Ek glo in my hart dat die Here my kind ten volle gaan genees, maak nie saak wat die dokters sê nie.”

Cecilia en haar man, Riaan, het die skoknuus van Rick se breinkanker ontvang nadat hy verlede Vrydag (21 Januarie) van Hoërskool Erasmus se pawiljoen-trappies geval het.

Hy was daar om sy suster, Amber, by die skool se interhuis-atletiekbyeenkoms te ondersteun.

Amber is ’n gr.9-leerder aan die skool en het aan die atletiek deelgeneem.

In ’n oogwink het hy ’n epileptiese aanval gekry en van drie trappe afgerol. Die paramedici was dadelik daar om hom te stabiliseer en hy is per ambulans na die hospitaal gejaag.

“Sy hart het gaan staan,” het Cecilia vertel.

“Hulle kon Rick nie wakker kry nie, en het met hom na Steve Biko Hospitaal toe gejaag.”

Rick het al op die jong ouderom van 12 jaar epileptiese aanvalle begin kry wat sedertdien al hoe meer toeneem.

Die 200mg-dosis Epilim wat hy destyds voorgeskryf is, het mettertyd na 1800mg per dag verhoog, maar die aanvalle het aangehou. Dit het so erg geraak dat Rick naderhand nie meer skool toe kon gaan nie.

Die aanvalle gebeur nou daagliks, soms tot nege keer op ’n dag.

Sy mediese toestand het hom van ’n normale skoolloopbaan en jongmenslewe ontneem.

Rick ken die koue hospitaalgange maar al te goed.

Hy lê gereeld, nie uit vrye wil nie, besoek in die hospitaal af. Soms gaan hy vir ’n week, en ander tye selfs vir ’n maand.

Hy was juis weer in November vir bykans drie weke in die hospitaal.

Rick is toe vir die ergste vlak van epilepsie behandel en op ’n waglys om ’n breinskandering te kry, geplaas.

Hy is na sy val weer in die hospitaal opgeneem.

Die bloedtoetse, tesame met ’n CT-skandering en ’n MRI-skandering het die ergste bevestig.

Rick is met septo-optic dysplasia en fase 2-breinkanker gediagnoseer. Septo-optic dysplasia kan sy sig, gehoor en spraak aantas.

Simptome wat hy altyd ervaar, is kroniese hoofpyn en vreeslike moegheid. Hy kan soms nie uit die bed opstaan nie.

“Die nuus is Saterdagmiddag aan ons gegee. Dit is vir my baie moeilik en so seer. My kinders is my hele lewe. Ek kan dit nie aanvaar nie,” het Cecila gesê.

“Vir Pappa Vader is als moontlik – niks is vir Hom onmoontlik nie,” het sy verklaar.

Rick sal chemo-behandeling moet ondergaan en die toekoms lyk onseker. Hy moet weer by die hospitaal uitkom vir ’n ondersoek en die gesin weet nog nie of operasies sal moet volg nie.

Die Van Zyls het nie ’n mediese fonds nie en geld knyp.

Hulle benodig hulp vir die mediese uitgawes.

Mense in die gemeenskap wat hierdie seun en sy ouers wil help, kan vir Riaan van Zyl skakel by 076 365 4540 of vir Cecilia van Zyl by 065 916 1963 kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button