Daar ís hulp vir vroue wat emosioneel afgeknou word, sê kenner van Delmas
Emosionele mishandeling is ’n subtiele vorm van mishandeling, want vroue wat daaraan blootgestel word het geen bewyse daarvoor nie, geen bloukolle, geen hospitaal ongevalle rekords en geen foto’s nie.
Emosionele aftakeling of afknouery is vir menige vroue ’n skande, iets waaroor hul skaam is en iets waarvoor hulle nie fisiese bewyse het nie.
Kenners beskryf dié vorm van mishandeling as ’n soort breinspoeling wat geleidelik ’n vrou se sin vir selfwaarde afbreek en sy verloor daardeur haar selfvertroue.
Emosionele mishandeling is ’n subtiele vorm van mishandeling, want vroue wat daaraan blootgestel word, het geen bewyse daarvoor nie, geen bloukolle, geen hospitaal-ongevallerekords en geen foto’s nie.
Dit behels verder dat iemand beheer oor ’n ander persoon kry, deur mag en beheer uit te oefen.
Die kenners meen verder dat daar van ’n verskeidenheid van tegnieke gebruik gemaak word, soos die kweek van vrees, vernedering, subtiele intimidasie, en manipulasie .
Streeknuus het met een so ’n vrou, wat verkies om anoniem te bly, gaan praat om te probeer verstaan waardeur hierdie slagoffers van emosionele mishandeling gaan.
“Op die oog af kom ons gesin seker baie normaal voor. Ons het twee pragtige seuns in die skool. Ons leef ’n gemiddelde lewe. Daar is nooit werklik tekorte nie, ons besit selfs ons eie huis.
“Dít is prentjie vir die oog van die publiek en ons gesamentlike vriende, ons kerk en ons kinders se skool.
“Hy sal grappenderwys aanmerkings in geselskap maak en almal sal daaroor lag, wetende dat ek weet dat dit direk op my gemis is en diep sny.
“Die waarheid ontvou egter wanneer ek, of ons alleen is. Na elke braai word ek vertel wat ek alles verkeerd gedoen het en hoe dit eintlik, volgens hom, moes gedoen het.
“Sodra die ‘vriende’ by die deur uitstap, krimp ek ineen, want ek weet wat kom.”
Volgens die vrou kan sy niks goed in die oë van haar man doen nie. Haar kleredrag, haarstyl, grimering, gedrag, gesprekke, alles word bevraagteken.
“Ek noem spesifiek “gesamentlike vriende”, want ek mag geen vriendinne hê nie. Hulle (die vriendinne) word elkeen, met duidelik gestipuleerde redes, geweeg en te lig bevind.
“Ek verbaas myself eintlik oor die hoeveelheid geloofwaardige verskonings wat ek kan, of dan moet, uitdink wanneer ek na iets genooi word.
“Jy leer dit egter aan en lieg sonder om ’n oog te knip, of nee, ek lieg so dat ek myself glo. Ek dink dit is die lewe van ’n vrou wat emosioneel mishandel word. Normaal buite, doodbang en ’n wrak van binne.”
Op ’n vraag oor hoekom sy nie om hulp vra nie, hoekom sy nie iets doen om uit die situasie te probeer kom nie, was die antwoord: “Wié gaan my glo? In ons klein gemeenskap is ons die perfekte gesin, my man sorg dan so goed vir my. Wat van my kinders?
“Ek dink meestal aan hulle. Ek sal as ‘mal’ afgemaak word en hy sal beheer oor die kinders kry. Ek het een keer vantevore gedreig om my goed te vat en te loop. Hy het net gelag en gesê: ‘Probeer gerus, ek sal sorg dat jy die kinders nooit weer sien nie en almal sal weet hoe sleg jy regtig is.’
“Ek kán dus nie hieruit kom nie. Dit is nou maar eenmaal my lot. Soms net soms, wens ek dat iets verskrikliks kan gebeur, wat ook al, sodat die dinge net kan weggaan.”
Volgens me. Heila Coetzee, ’n vrou daarvoor bekend dat haar deur oopstaan vir dié wat seer het en die wat hulp nodig het, is daar hulp en ’n uitweg.
Sy beveel aan dat enige vrou wat glo daar is geen uitkoms nie, dadelik om hulp moet vra.
“As jy in ’n verhouding staan waar dinge handuit ruk, emosioneel of fisies, moet jy hulp kry,” het me. Coetzee gesê.
Sy noem verder dat vroue se eerste reaksie gewoonlik is dat hulle nêrens het om heen te gaan nie.
“In die kop van ’n mishandelde vrou is daar nie uitkoms nie, maar sy kán oor begin, vroue kán alleen bly en aangaan met hul lewens. Vroue moet egter bereid wees om gehelp te wíl word.”
Me. Coetzee het gesê dat hoewel sy nie ’n lid van die polisie is nie, sy saam met die polisie werk om vroue met enige vorm van mishandeling te help en by te staan.
“Aan die vroue van die gemeenskap, kontak my asseblief, al is dit twee uur in die oggend, ek is daar om met raad en daad by te staan.”
“Tel jou selfoon op en bel, dit is die eerste en belangrikste stap na bevryding.”
Vroue word aangeraai om nie te vereensaam, skaam te wees of die mishandeling geheim te hou nie.
Me. Coetzee het beklemtoon dat die situasie ook omgekeerd kan wees.
“Mans kan natuurlik ook slagoffers van emosionele mishandeling wees.”
Me. Coetzee kan by 078 065 0105 geskakel word of skakel die polisie se hulplyn by 0800 150 150.



