Eens ’n pragwoning op Delmas, nou ’n bouvallige seeroog
Eienaars van buur-eiendomme het ook al verskeie e-posse aan die verbandhouer-bank gerig, maar geen hond is nog haaraf gemaak nie.
Inwoners van Delmas se uitbreiding 2 het dit eens dat die verval van ’n huis in Oosterhuisstraat nie langer aanvaarbaar is nie.
Baie inwoners bly reeds vir soveel as 27 jaar in die dié omgewing.
Dit is juis daarom dat die verval van Oosterhuisstraat 13 so ’n groot hartseer en seeroog vir ou-, sowel as nuwe inwoners van die omgewing is.
Streeknuus het navrae aan die eienaar van die woning gerig, maar hy het nie daarop reageer nie.
Met ’n bekende bank as verbandhouer, kan inwoners ook nie verstaan waarom die bank nog nie besit van die eiendom geneem het nie.

“Ek het op verskeie geleenthede met die bank in verbinding getree, maar was aangesê dat ek nie die eienaar is nie en daarom nie geregtig is op antwoorde op vrae rondom die stand van die eiendom nie,” het Ansa Oosthuizen, ’n onmiddellike buurvrou laat hoor.
Eienaars van buur-eiendomme het ook al verskeie e-posse aan die verbandhouer-bank gerig, maar geen hond is nog haaraf gemaak nie.
Verskeie klagtes rondom die toename van kriminele aktiwiteite in en om die huis is ook ontvang.
Die infrastruktuur is heeltemal verwoes deur plunderaars en slegs ’n dop bly nog staande.
Vensters, deure, kaste, wasbakke, storte, krane, warmwatertoestelle, koperpype, elektriese drade en toerusting is alles verniel en verwyder.
Daar is ook bewyse gevind dat verskeie haweloses tans in dié huis bly.

“Daar is geen water of werkende toilet meer op die perseel nie en dit bekommer ons. Die plakkers doen sommer hul ‘besigheid’ op die vloere of êrens in die erf,” het ’n ander inwoner gesê.
“Dit maak dit vir ons as bure van die huis baie moeilik. Inbrake by ons eiendomme en die diefstal van staal, kruiwaens, lere en baie ander items neem toe.
“Die feit dat die huis aan die R50-pad geleë is, maak toegang vir enige krimineel baie maklik.
“Die plaaslike Valke Buurtwag, in samewerking met plaaslike sekuriteitsmaatskappye het aanvanklik probeer om die vanadale en onwettige besetters te stuit, maar moes helaas tou opgooi, want dit het ’n voltydse werk geword,” het Carel Botha, gesê.
“Die erf is onbegaanbaar en toegegroei met onkruid. Ons bure het reeds saamgespan en geld bestee om die vorige seisoen die erf te laat skoonmaak, maar dit kom teen ’n koste en ons kan onmoontlik nie daarmee volhou nie .”
Verskeie van die eienaars van naburige eiendomme het ook aan Streeknuus bevestig dat derduisende rande aan sekuriteit op hulle eiendomme bestee moes word.

“Ander se laksheid en nie-omgee-mentaliteit, kos my nou baie geld, maar ek moes dit doen vir my en my gesin, sowel as my eiendom se veiligheid,” het een nabygeleë inwoner gesê.
Gedurende Junie 2021 het daar ’n grasbrand op die perseel posgevat en moes die brandweer ontbied word (Streeknuus 9 Julie 2021) omdat daar geen lopende water op die perseel is nie.
Bure langsaan het skade gelei toe die vuur die volgende oggend weer opgevlam het en deur die heining gebreek het.
In ’n poging om haar eie eiendom teen die lekkende vlamme te probeer beskerm het die inwoner ligte brandwonde opgedoen.
Weer eens was klagtes ingedien by die eienaar en die bank, maar steeds was daar geen gehoor gegee nie.
Streeknuus het wel vertroulik bevestig dat die verband by die bank nie gediens word nie en beskik ook oor inligting, met stawende dokumente, rondom die astronomiese uitstaande verbande op die eiendom sowel as die agterstallige dienste-rekeninge by die munisipaliteit.
Langer as twee jaar moet inwoners aanskou hoe die eens pragwoning daagliks gevandaliseer word en hoe die erf in ’n onveilige oerwoud vir die skuiling van kriminele verander.




