Geskorste ANC-raadslid en mede-beskuldigdes kry borgtog
Al vier die beskuldigdes het skuld ontken op die klagte dat hulle vir Knowledge Kushata tydens ’n voorval by ’n plaaslike taverne, Khehla’s Place in Botleng, vermoor het.

Die vier mans wat daarvan beskuldig word dat hulle ’n uitsmyter op 16 Januarie vermoor het, se borg is toegestaan.
Moses Mofomme (46), Komogelo Moulamedi (21), Sibusiso Buda (37) en Erick Mahlangu (37) het weer op Woensdag, 2 Februarie in die Delmas Streekhof verskyn waartydens daar formeel om borgtog aansoek gedoen is.
Die hof het die vier se verklarings aangehoor.
Al vier die beskuldigdes het skuld ontken op die klagte dat hulle vir Knowledge Kushata tydens ’n voorval by ’n plaaslike taverne, Khehla’s Place in Botleng, vermoor het.
In die lig van die erns van die misdade (skedule 5) het die staat borgtog teengestaan.
Die ondersoekbeampte het egter aangevoer dat hy in sy persoonlike hoedanigheid geen rede sou hê om borg teen te staan nie.
Hy het aan die hof genoem dat die vier hulle volle samewerking in die ondersoek verskaf, dat hulle nie oor paspoorte beskik nie en inwoners van Delmas is.
Hy kon egter nie waarborg dat die beskuldigdes nie met getuies sou inmeng nie.
Borgtog is deur landdros Sanikwe Dlamini toegestaan.
Mofomme wat ’n geskorste ANC-raadslid in die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit is, Buda en Mahlangu is op borgtog van R5 000 elk vrygelaat.
Moulamedi se borg is op R2 000 toegestaan omdat hy werkloos is.
Borgvoorwaardes sluit in dat die beskuldigdes nie met die getuies in die saak inmeng nie, nie met bewystukke sal lol nie, nie publieke onrus sal veroorsaak nie en ook nie Suid-Afrika sal verlaat nie.
Die vier is aangesê om weer op Dinsdag, 10 Maart in hof te verskyn.



