Dié waterpype in VKLM is dalk gevaarlik
Mokanyane het toe aanbeveel dat amptenare ’n aansoek aan die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in Mpumalanga oorhandig om die sement-asbespypnetwerk te vervang, maar daar het niks van gekom nie.

Die Demokratiese Alliansie (DA) het gevra dat verouderde asbeswaterpype in die Victor Khanye Plaaslike Munisipaliteit (VKLM) dringend vervang moet word.
Inwoners van VKLM weet wat dit beteken om sonder water te wees.
Vir etlike jare reeds moet inwoners met min en soms geen water klaarkom.
Gedurende 2019 / 2020 het Randwater boonop die toevoer na die gebiede van Sundra, Rietkol en Eloff verminder weens uitstaande skuld aan die voorsiener.
Weens die verminderde druk, het sommige en veral hoogliggende inwoners, vir solank as vier maande nie ’n druppel water uit hul krane sien kom nie.
Politieke partye het verskeie pogings aangewend en hul uiterste probeer om te onderhandel om die waterdruk herstel te kry.
Die probleem is onder die aandag van AfriForum gebring en dié burgerregteorganisasie het ’n hofsaak aanhangig gemaak waarin hulle in hul hofstukke versoek het dat watertoevoer herstel moes word.

’n Ooreenkoms is bereik en op 11 Mei 2021 het die hof ’n bevel bekragtig dat Randwater weer water teen volle kapasiteit deur die pype moes stuur. (Streeknuus, 14 Mei 2021)
Dit was egter nie die einde van die waterprobleme vir die inwoners nie.
Stukkende pompe en verswakte pype wat gedurig bars, sou die watervoorsieningsprobleem laat voortduur.
Reeds so vroeg as Desember 2015 het die destydse Minister van Water en Sanitasie, Nomvula Mokonyane, op ’n versoek van die DA in die parlement, gereageer.
Die versoek het rondom die grootmaatwatervoorsiening en die veroudering van die waterpype gehandel.
Die verouderde pype sou deel uitmaak van die aanhoudende watervoorsieningsprobleme wat die inwoners van Delmas, Sundra, Rietkol en Eloff direk raak.
Mokanyane het toe aanbeveel dat amptenare ’n aansoek aan die Departement van Samewerkende Regering en Tradisionele Sake in Mpumalanga oorhandig om die sement-asbespypnetwerk te vervang.
Volgens Diane Bath, raadslid vir die DA in die VKLM, het daar egter niks van gekom nie.
Sewe jaar later word hierdie verouderde pype steeds in die Modderbee-pyplyn aangetref.
Die pyplyn is sowat 17km lank en voorsien sowat 90% van die sowat 60km-watervoorsieningsnetwerk van Eloff, Sundra en Rietkol.
“Dit is uiters kommerwekkend dat die netwerk se pype nog nie vervang is nie, veral siende dat waterpype gereeld breek,” het die DA in ’n verklaring op 11 Mei gesê.
Die pype is boonop van asbes gemaak en dit hou dus ’n groot gesondheidsrisiko vir inwoners in.
“Daar is bewys dat die pype in die netwerk stukkies asbesvesel en stof in het.”
Volgens die DA se verklaring, het die Helen Suzman Stigting onlangs uit verskeie studies waargeneem dat asbesvesel ’n groter gesondheidsrisiko, behalwe die inasem daarvan, vir die mens inhou.
“Daar is bewyse dat die insluk van asbesstowwe met die drink van besoedelde water ook ’n gesondheidsrisiko inhou.”
Dit kan ook bydra tot die ontstaan van verskeie soorte kanker.
Die DA het daarom weer eens ’n skrywe aan die hoof-uitvoerende beampte van samewerkende regering en tradisionele sake in Mpumalanga, Mandla Ndlovu, gerig.
In die skrywe word glo aanbeveel dat alle asbespype in Victor Khanye en elders in die provinsie verwyder moet word.