Delmas loop oor Tembisa Stallions
Met die blaas van die eindfluitjie was die telling op tellingbord ’n allemintige 113 teenoor die vyf van die Tembisa Stallions.
Dit was ’n klipharde wedstryd, maar die spelers van Delmas Rugbyklub het daarin geslaag om korte mette met die besoekende spelers van Tembisa in Kemptonpark te maak.
Delmas het die wedstryd met 113-5 gewen.
Die wedstryd het deel gevorm van ronde twee van dié seisoen se Valke Kestrelliga waarin spanne van Vanderbijlpark, Tembisa, Katlehong, Heidelberg en Delmas teen mekaar kragte meet.
Dit was van meet af duidelik dat Delmas die wedstryd sou domineer.
Die manne van Delmas het 19 drieë gedruk en 13 skoppe was suksesvol deur die pale gestuur.
“Ons wou groot gaan met hierdie wedstryd en ons was suksesvol, ons spelers het uitstekend gespeel,” het Jandré Senekal, een van Delmas se afrigters laat hoor.
Die volgende ligawedstryd vind op Saterdag, 25 Junie, op Delmas plaas. Die Delmas Rugbyklub sal dan teen die klub van Heidelberg te staan kom.
Nog twee tuiswedstryde volg op Saterdag, 2 Julie en 9 Julie.
Belangstellendes word genooi om die spelers van Delmas te kom ondersteun.







