Volksliedjie se herkoms
Haar ouers was Voortrekkers en het hulle in die omgewing van die Suikerbosrand gevestig.

Die oorsprong van die liedjie “Sarie Marais” kan na ene Sarie Marais (Susara Margaretha Maré) teruggevoer word.
Sy was die eerste dogter van Jacob Philippus Maré en Cornelia Susanna Jacoba Erasmus en is op die plaas Eendraght, Suikerbosrand, distrik Heidelberg, op 15 April 1869 gebore.
Haar pa was later ‘n lid van die uitvoerende raad van die Transvaal en ‘n straat in Pretoria is na hom vernoem.
Dié Sarie Marais (eintlik Maré) wat in die wyk van die Mooirivier gewoon het, was ook bekend as tant Mossie, volgens die SA biblioteek se katalogus-inskrywing AP.1998-227.
Haar ouers was Voortrekkers en het hulle in die omgewing van die Suikerbosrand gevestig.
Die dorpie Heidelberg het toe nog nie bestaan nie.
Die grootste konsentrasie Voortrekkers het hulle in die wyk Mooirivier bevind, waar die dorp Potchefstroom aangelê is.
In hierdie tyd was daar vyf wyke in Transvaal naamlik Mooirivier (Potchefstroom), Magaliesburg (Rustenburg), Marico (Zeerust), Ohrigstad en Zoutpansberg (Pietersburg).
Suikerbosrand was in die wyk van Mooirivier geleë, wat vanaf Potchefstroom tot die huidige Wolmaransstad en Makwassie gestrek het.
Toe sy 16 jaar oud was, het sy vir Jacobus Petrus Toerien, ‘n verslaggewer van “Di Patriot” van die Paarl, ontmoet.
Hy was toe in Pretoria om ‘n onderhoud met haar pa te voer.
Hy het onder die skuilnaam Jepete in “Ons Kleintje” geskrywe in sy hoedanigheid as subredakteur van “Di Patriot”.
Hulle is getroud en het 16 kinders gehad, van wie net agt grootgeword het.
Hy het by Amerikaners wat in Transvaalse myne gewerk het, die liedjie “Sweet Ellie Rhee” gehoor, wat sy oorsprong in die Amerikaanse Burgeroorlog gehad het en deur Septimus Winner (Alice Hawthorne) geskryf is.
In die tydperk tussen die Eerste en Tweede Vryheidsoorloë het Jepete die woorde vertaal en só sy vrou, Sarie Maré, verewig.
Die lied het ook nie aanvanklik al die versies en presies dieselfde woorde gehad het as wat ons vandag ken nie.
Maré het later weens ‘n drukfout Marais geword.
Teen 1899 was Sarie Marais reeds ‘n treffer in Pretoria.
In die Anglo-Boereoorlog het dit nie net gewild by die Boeremag geword nie, maar ook by ander soldate.
Dit het later wêreldbekend geword omdat duisende Suid-Afrikaanse soldate dit in die Eerste en Tweede Wêreldoorlog gesing het.
Die gewildheid het het só gegroei dat die Britse Royal Marines dit as regimentsmars aangeneem het en hul opleidingskip heet ook Sarie Marais.
Dit is ook die regimentsmars van Paraguay se seinerskorps.
Die eerste Suid-Afrikaanse seiljag se naam was ook Sarie Marais en duisende besoekers het al in die Durban-hawe op die Sarie Marais-plesierboot gevaar.
Die eerste Suid-Afrikaanse rolprent se naam was Sarie Marais.
Sarie, sustertydskrif van Die Volksblad, heet ook na haar en tot hotels en woonstelblokke is na haar genoem.
Op die eerste internasionale radio-uitsending tussen Suid-Afrika, Brittanje en Amerika op die verjaardag van me. Isie Smuts, vrou van die destydse premier, generaal Jan Smuts, het die sangeres Gracie Fields “Sarie Marais” gesing.
In die Tweede Wêreldoorlog het ‘n buitestasie van soldate in Noord-Afrika die naam “Sarie Marais Calling” gehad.
Die Suid-Afrikaanse weermag is steeds lief om die mars op parades te speel, terwyl die Franse Vreemdelinge-legioen dit ook gebruik.
Dit is ook die amptelike lied van die Girl Guides in Sri Lanka (Ceylon) wat dit aan die begin van die vorige eeu by die Boerekrygsgevangenes daar gehoor het. In die jare dertig van die vorige eeu is dit verkeerdelik op die Olimpiese Spele in Amerika as Suid-Afrika se amptelike volkslied gespeel.
Duitsers het ‘n pienk roos met die naam, Sarie Marais, gekweek waarvan voor die Pantserskool in Tempe, Bloemfontein, geplant is.
Sarie was ‘n diep godsdienstige vrou en selfverheerliking was totaal in stryd met haar nederige geaardheid.
Sy het altyd haar verbintenis met die liedjie stilgehou. Na Jacobus se dood in 1920 het sy haar by haar dogters in Bloemfontein gaan vestig.
Sarie is op 22 Desember 1939 op die ouderdom van 73 jaar in armoede oorlede en in ‘n nederige, ongemerkte graf in die Memoriam-begraafplaas naby die Vrouemonument begrawe.



