EntertainmentLifestyle

Elri Smith van Dolce Armonia Musiekskool deel haar talent

“Die drie belangrikste mans in my lewe het my gehelp om my droom waar te maak - my pa, my man en my skoonpa.”

SECUNDA – Me. Elri Smith (26) is geen onbekende in die gemeenskap nie.

Haar liefde vir musiek het op ’n baie jong ouderdom begin.

Sy het as kleuter na ’n neef se troue haar sussie se blokfluit geneem en die troumars begin speel.

“Ek het as klein dogtertjie op my oupa se plaas vir myself ’n panfluit met bamboesstokkies gebou.

“Daar was net te veel gaatjies en ek het besluit om eerder die blokfluit te bemeester.

“Ek onthou nog die dag toe my ma my vir my eerste les geneem het.

“Sy het vir my gesê dat ek moes vasbyt en nie haar tyd en geld mors met iets waarmee ek nie gaan volhou nie.”

Dit was 20 jaar gelede en me. Smith besit vandag haar eie musiekskool, Dolce Armonia.

“Die drie belangrikste mans in my lewe het my gehelp om my droom waar te maak – my pa, my man en my skoonpa.”

Hulle het hard gewerk om haar skool betyds klaar gebou en ingerig te kry.

Sy is op Secunda gebore en was in Laerskool Goedehoop en in Hoërskool Secunda.

Sy het na matriek binnehuiseversiering en projekbestuur studeer.

“Ek het landwyd gewerk en winkelsentrums help bou en ontwerp.

“Dit was lekker, maar dit was nie my passie nie.”

Sy en haar man het besluit om hulself permanent op Secunda te vestig en me. Smith het begin musieklesse gee.

Me. Smith het blokfluit tot Unisa gr. 7 en is tans besig met haar gr. 8.

Sy het in gr.6 begin klarinet speel en het reeds haar gr. 6 aan Unisa behaal.

In haar eerste jaar op universiteit het sy met viool lesse begin en het ook dié instrument bemeester.

Haar ouma het vir haar ’n klavier gegee en me. Smith het lesse geneem en speel ook kitaar.

“Kitaar en klavier is albei snaarinstrumente, so dis nie moeilik om die twee bymekaar te bring nie.”

Me. Smith is ook tans besig om die saksofoon te leer speel.

Dit lyk of daar geen einde is aan dié jong vrou se talente nie.

Een van die projekte wat haar na aan die hart lê, was die beplanning, die teken van planne en die uitleg van die Lewende Woord Gemeente se nuwe kerkgebou.

“Dit was só lekker om dié projek te doen, want geloof is vir my baie belangrik.”

Dit het haar liefde vir kreatiwiteit gestimuleer en is iets waarop sy trots is.

Sy ontwerp steeds kombuise en help met die teken van bouplanne.

“Baie van die gemeentelede se kinders is ook by my musiekskool betrokke en speel in die kerkorkes.

“Ek wil vir hulle die selfvertroue gee om op ’n verhoog te staan en hul talent te deel.”

Me. Smith en van haar studente tree ook gereeld op by troues en geleenthede op.

Sy is veral bekend vir haar optredes by Lake Umuzi.

Dolce Armonia rig ook kinders af om aan Eisteddfods deel te neem en musiekeksamens word deur die Royal Schools afgelê.

Dit is ’n internasionale eksamen wat vir studente geleenthede in die buiteland skep.

“Ons oefen tans vir ’n groot konsert.

“Daar is groot planne in die pyplyn, hou ons dop.”

Me. Smith se jongste student is vier jaar oud en van haar ander studente is volwassenes.

Die grootste aanvraag plaaslik, is vir kitaar- en klavierlesse.

“My gunsteling instrument is steeds die blokfluit.”

In haar vrye tyd is sy lief vir skilder en grafiese ontwerp.

Sy is lief vir diere en het ook ’n troetel krimpvarkie wat haar hart se punt is.

Me. Smith ontwikkel ook tans ’n kindermusiekprogram wat as Oppinoot bekend staan.

Dit fokus op kleuters, perkussieinstrumente en blokfluit.

“Met dié projek kan ek albei my liefdes uitleef – kinders en musiek,” het me. Smith gesê.

Stuur ’n e-pos na dolcearmoniamusiekskool@gmail.com vir meer inligting.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button