September is Annebel-maand

Volgens me. Ferns is die projek nie ’n eenvroudroom nie, maar word onderhou deur die hele gemeenskap.

Me. Saretha Ferns het sowat sewe jaar gelede die Annebel-projek op Ermelo begin en daarmee meisies van Ermelo begin bystaan.

Sy is die takbestuurder op die dorp en hulle voorsien bykans 50 meisies maandeliks van die basiese benodigdhede.

Die pakkies wat opgemaak word, bevat produkte soos sjampoe, onderarmrol, handeroom asook sanitêre produkte, wat persoonlik aan ’n meisie oorhandig word.

Daar word ook basiese afrondingsklasse aangebied waartydens hulle oor persoonlike higiëne leer.

September is Annebelmaand en me. Ferns het vroeër aan die Hoëvelder vertel dat Annebel nie net gaan oor die produkte waarmee hulle meisies help nie, maar gaan ook daaroor om vir hulle hoop te gee.

Hulle fokus vandeesmaand daarop om in Oktober vir die meisies wat hulle dan eers weer in Januarie sien, maandelikse pakkies te kan gee wat hulle tot dan sal hou.

Daar word ook geld benodig vir die gr. 7-dogters wat saam op hul skool se uitstappie gaan.

Me. Ferns beoog om vir hulle klere vir die uitstappie te koop. Saam met dié inkopies, gee sy aan elke kind ’n beursie met haar geld in en leer hulle om te begroot en met geld te kan werk.

Volgens me. Ferns is die projek nie ’n eenvroudroom nie, maar word onderhou deur die hele gemeenskap.

In een van die briefies wat ’n Annebel-dogter geskryf het, skryf sy: “Dankie tannies ver silke wonderlike pakkies en dankie dat tannies vir ons omgee.”

Een van die meisies wat al vyf jaar deel van Annebel is, vertel dat die pakkie wat sy maandeliks ontvang haar nie net help om ’n mooi meisie te wees nie, maar leer haar ook om mooi van binne te wees.

Sy beskryf me. Ferns as haar rolmodel en ’n voorbeeld oor hoe om altyd netjies te lyk.

“Sy leer my dat daar altyd hoop is, maak nie saak hoe die lewe lyk nie. Mens hoef nie ryk te wees om ’n mooi hartjie te hê nie. Annebel maak dat ek nie hoop verloor nie.”

In al die briewe is dit duidelik dat die liefde en band tussen die meisies en die Annebel-ma’s onbreekbaar is.

Die gemeenskap kan betrokke raak deur óf ’n Annebel-ma te word óf produkte te skenk.

Skakel me. Saretha Ferns by 082 302 5335 vir meer inligting.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button