Hoëveld Landboufees: Skoukunstenaars se datums verander
Appel sal Vrydag, 8 Maart die feesgangers vermaak terwyl Adam die verhoog Saterdag, 9 Maart aan die brand sal sing.
Die groep van Adam en die groep Appel se datums vir die Hoëveld Landboufees het verander.
Franja du Plessis en Jay sal Donderdag, 7 Maart die verhoog deel. Leah en Appel sal Vrydag, 8 Maart die feesgangers vermaak terwyl Refentse en Adam die verhoog Saterdag, 9 Maart aan die brand sal sing.
Die Hoëveld Landboufees se komitee is opgewonde oor die talle nuwe stalletjies wat by vanjaar se skou te sien sal wees.
Onder die stalletjies sal daar vir die gene wat gesondheidsbewus is, ‘n varsprodukte mark, ‘banting-produkte’, gesondheids-sappies en ‘n verskeidenheid vars gesondheids-gebak wees.
Handgemaakte speelgoed vir kinders en ‘n verskeidenheid brei en hekelwerk deur die inwoners van die ouetehuis sal ook by die skou te sien wees.
Klerestalletjies vir mans en vroue, asook vellie-skoen, handgemaakte-produkte en juweliersware sal skougangers nie teleurstel nie.
Die restaurant en biertent sal sorg dat niemand honger of dors gelaat word nie.
Die komitee het vanjaar baie moeite gedoen om nuwe asem in die skou in te blaas en sien uit na die nuwe pretpark wat die opwagting sal maak.
“Extreme 4×4” sal skougangers die geleentheid gee om Vrydag, 8 Maart en Saterdag, 9 Maart die hindersbaan in die “rockcrawlers” aan te durf.
Hulle sal ook ‘n uitstalling van veteraanmotors, 4×4 benodighede en kamptoerusting aanbied.
“Extreme Inflatables” sal by vanjaar se skou te sien wees met ‘n spookhuis, vuurpyl en ‘n reuse glybaan.
Toegang beloop R30 pp vir skoliere en R60 pp vir volwassenes.
Voorskoolse kinders wat vergesel word deur hul ouers sal gratis toegang ontvang.
‘n Ander nuweling wat by die Hoëveld Landboufees sal aansluit is die “Gospelfees” wat Sondag, 10 Maart sal plaasvind.
Dié fees begin om 2nm met lofprysing en toegang is gratis.
Ds. Dirkie van der Spuy sal omstreeks 3nm ‘n boodskap lewer.



