PlaasJuppie Fees beloof groot pret hierdie naweek op Bethal
Kitaarkêrels sal sorg vir vermaak
BETHAL – Jim van Tonderskool bied op Saterdag, 27 April hul jaarlikse PlaasJuppie Fees by die skool aan.
Die doel van dié fees is om geld in te samel vir projekte wat die opknapping van die sportvelde en klaskamers insluit.
Leerders van Secunda, Kriel, Bethal, Standerton en Ermelo onder andere, gaan by Jim van Tonder skool.
Volgens me. Rita Slabbert, een van die organiseerders van die fees, is die fees ook ‘n geleentheid vir die plaaslike en omliggende gemeenskappe, kerke, skole en welsynsorganisasies om geld in te samel.
Die fees skop reeds op Vrydagaand, 26 April af met ‘n plaasdans in die skoolsaal.
Kaartjies vir die plaasdans kos R150 per persoon en sluit ‘n ligte ete in.
Dansmusiek sal afgewissel word met optredes van Hennie de Bruyn en die Kitaarkêrels.
Vir die sportgeesdriftiges is daar die Saterdagoggend (27 April) ‘n pretloop en spanne is ook welkom om in te skryf.
Die PlaasJuppie Fees bied vanjaar ook die “Juppie kan Sing”-sangkompetisie aan en daar is groot pryse op die spel.
Die Mnr., Mej. en Mev. Juppie Fees is een van die ander hoogtepunte op die feesprogram.
Franna en Dominique se optrede sal ook die skare bekoor.
‘n Babafotokompetisie is ook op vanjaar se program asook ‘n baba-ekspo.
Vir die kinders sal daar vermaak in die vorm van perderitte, en skyfskiet- en karate-optredes aangebied word.
Daar sal ook ‘n groot verskeidenheid stalletjies wees wat eetgoed en ander items sal verkoop. Vir die mans sal daar ‘n uitstalling van klassieke motors wees.
Rugbywedstryde sal op die groot skerm in die biertent uitgesaai word.
Franna gaan die middag in die biertent optree.
Die Ridge Times het vanjaar hande met Jim van Tonderskool geneem met hul Winterwarmprojek waarmee hulle komberse vir die Bethal DBV insamel.
Die komberse kan by die hekke op die dag van die fees afgegee word of by Purple Parrot Gift Shoppe of MFitness Gym op Bethal.
Toegang vir die fees beloop R30 per volwassene en hoërskoolkind, R10 per laerskoolkind en gratis toegang vir kindrs van ses jaar en jonger en seniorburgers.
Vir meer inligting, kakel me. Rita Slabbert by 083 560 1155 of 017 647 5987 of stuur ‘n e-pos na plaasjuppiefees @gmail.com.