Hoërskool Oosterland Wieleskou by Graceland skop vandag af
Met die Charity Challenge wat ook by die skou gaan plaasvind, gaan eienaars van vreemde en veteraanmotors, deur die dorp ry en skenkings vir minderbevoorregte kinders oplaai.
SECUNDA – Hoërskool Oosterland se jaarlikse Wieleskou vind op Saterdag, 25 Mei by Graceland Casino, Hotel en Buitelugklub plaas.
Van die vermaak en aktiwiteite om na uit te sien, sluit in die Rock Crawlers, Big Foot, die Wieleskou Dyno Uitdaging, die SpinAthon, ‘n rolstoelresies, ‘n armdrukkompetisie, ‘n kattebak-uitverkoping, ‘n Show & Shine-kompetisie en Mnr. en Mej. Wieleskou.
Die Rock Crawlers is voertuie wat met spesiale vaardighede teen walle kan uitry en sluit in ‘n Pro-locker Jeep, ‘n Toptruck en ‘n Super Modifier.
Feesgangers sal die kans kry om in dié voertuie te ry en die aksie eerstehands te beleef.
Die koste beloop R70 per persoon.
Die Big Foot gaan ook op gewaagde bane ry en die Wieleskou Dyno Uitdaging bied feesgangers die kans om in enige voertuig op die mobiele toetsbaan te spin.
Die fietsry-gemeenskap van Mpumalanga bied die SpinAthon aan en groot name in die fietsrykringe wat plaaslike fietsryers, Brand du Plessis, Jaco van Vuuren en Janika Smit insluit, gaan vir vier ure op stilstaande fietse aflos ry.
Proconics se fietsryspan gaan ook deelneem en feesgangers kan saamry of kyk.
Ondernemings is welkom om die fietsryspanne te borg.
‘n Opbrengs van die SpinAthon gaan aan Marietjie Skool geskenk word.
Feesgangers kan ook in spanne van vier in ‘n span aan die rolstoelresies deelneem.
Me. Liné de Vries, organiseerder van die skou, het gesê: “Dié uitdaging skep nie net bewustheid vir die uitdagings waarmee rolstoelryers moet saamleef nie, maar is ook ‘n lekker spanbou- en saamdoen-aksie.
“Kan jy ‘n weghardloop donut met jou rolstoel vang?
“Kom neem deel en vind uit of jy kan.”
Met die Charity Challenge wat ook by die skou gaan plaasvind, gaan eienaars van vreemde en veteraanmotors, deur die dorp ry en skenkings vir minderbevoorregte kinders oplaai.
Hulle gaan ook deelneem aan ‘n resies wat om 10vm afskop en deel van ‘n skattejag vorm.
Daar gaan ‘n wye verskeidenheid kosstalletjies by die Wielskou wees wat van wafels tot nageregte en Duitse kos gaan verkoop.
Daar is ook ‘n fotokompetisie waar deelnemers hul gunsteling oomblik by die Wieleskou op kamera moet vasvang.
Besoek die Facebook-blad, Wieleskou, of skakel me. De Vries by 082 786 0134.



