Die Pages van Secunda maak weer ‘n draai by die Standerton Landbou Skou
Die Pages is goed op pad om hulle 50ste huweliksherdenking te vier met 42 jaar se getroude lewe reeds aangeteken.

Die Pages van Secunda sleep reeds sedert 2006 drie waentjies met ‘n tent in om by die skou op Standerton hulle stalletjies, gepak met ‘doughnuts’, vars aartappelskyfies en koeldrank te beman en vanjaar is geen uitsondering nie.
Mnr. Frik Page is ‘n oud-werknemer van die Brandspruit-steenkoolmyn by Sasol en het deeltyds begin met dié onderneming met sy eggenoot, Maurie, aan sy regterhand.
Sy ondervinding van higiëne en gesondheidsfaktore is opgedoen nadat hy suksesvol ‘n kursus by die Sasolklub afgelê het en hy weet wat te wete mag wees oor die temperatuur wat vir kosgaarmaak gebruik moet word.
“Ek doen dit om myself besig te hou,” aldus Frik.
Die Pages is goed op pad om hulle 50ste huweliksherdenking te vier met 42 jaar se getroude lewe reeds aangeteken.
“Sy het sowaar so lank met my uitgehou,” het Frik droogweg gesê.
Hul dogter Yolandie en haar man, Jacques, is Lydenburgers en die twee kleinkinders, Maurize en Juan, help by geleentheid vir Frik en Maurie om alles klopdisselboom te laat verloop.
Dié bedrywighede geskied egter nie elke naweek nie met Frik wat dit dalk in die tuin sal waag of die motor behoorlik gaan skoonmaak.
Die Standerton Landbou Skou tel onder hulle besoekpunte.
“Ons gaan na feeste waar daar voete is,” het Maurie ‘n stuiwer in die armbeurs gegooi.
“Ons het nog altyd Standerton se mense goed ervaar,” het Frik mee afgesluit.
Lees die 2019 program hier:
https://standertonadvertiser.co.za/standerton-landbou-skou-2019/



