Marietjie Skool se Lentemark kry ’n nuwe baadjie
Talle nuwe uitstallers beloof wye verskeidenheid produkte
SECUNDA – Marietjie Skool bied op Maandag, 30 September ‘n ‘moonlight’-openingsaand by die skool aan, voor die afskop van hul jaarlikse Lentemark wat nou ‘n nuwe baadjie aangetrek het.
Die Moonlight-aand begin om 5nm en duur tot 8nm en kaartjies kos R150 per persoon.
Die Moonlight-aand bied belangstellendes die geleentheid om deur die stalletjies te stap en te koop voor die amptelike opening van die mark.
Die kaartjies sluit ‘n kaas- en wyn bederfie in en is beskikbaar by die skool.
Die Lentemark heet nou Marikie se Kuier en Koop Lekkerte en die fokus van dié inisiatief is om te maak, te versier en te leef vol handgemaakte inspirasie.
Die Marike Kuier en Koop Lekkerte vind vanaf 1 tot 5 Oktober by die skool plaas en stalletjies sal daagliks oop wees vanaf 8vm tot 7nm.
Me. Annaretha Fourie, organiseerder en onderhoof by Marietjie Skool, het gesê hulle is opgewonde oor vanjaar se mark en met sy nuwe voorkoms en talle nuwe uitstallers.
Sy het gesê dit is ‘n geleentheid wat ‘n mens nie moet misloop nie.
Vir meer inligting, skakel die skool by 017 631 1474.



