VIDEO: Ermelo Oos Boerevereniging benodig hulp vir Loxton-boere
Die groep boere beoog ook om voer wat mielies, molasse-stroop en molassemeel insluit na die boere te stuur.
Die Ermelo Oos Boerevereniging het onlangs ’n projek geloods om die boere in Loxton wat onder erge droogte gebuk gaan, te help.
Hulle beoog om dieregesondheidsprodukte soos doseermiddels, vitamien- en mineraalaanvullings vir dié boere in te samel.
Mnr. Lion du Plessis, van die Ermelo Oos Boerevereniging, het gesê “Die gesondheidsprodukte sal die skape help om die swak kwaliteit voer wat hulle tans kry te verwerk en te verteer.”

Die groep boere beoog ook om voer wat mielies, molasse-stroop en molassemeel insluit na die boere te stuur.
“Ons is tans besig om ’n vragmotor te soek wat ons kan bystaan om die voer te vervoer.”
Mnr. du Plessis het vertel dat die boer op 13 Desember vanaf Ermelo gaan vertrek om die goedere vir die boere af te lewer.

Enige iemand wat by die projek wil betrokke raak of goedere wil skenk kan by Ermelo BKB gaan inloer waar ’n lys van benodighede beskikbaar is.
Die items wat benodig word kan by BKB aangekoop word teen ’n spesiale prys, dit sal daar in bokse vir die organiseerders gehou word.
Vir meer inligting oor die projek skakel mnr. du Plessis by 084 811 4270.




