LCUC en AfriForum herstel slaggate op Standerton
Vullisverwydering bly ook nie agterweë nie, hoewel die Lekwa Munisipaliteit geleidelik begin het om vullis te verwyder.
Lekwa Clean Up Crew (LCUC) en AfriForum is die afgelope tyd opgemerk waar hulle slaggate op Standerton herstel.
Die veelbewoë Schwickardstraat het op 6 November aandag geniet en teen 9 November het hulle in Beyers Naudéstraat en Baumannstraat werskaf.
Vullisverwydering bly ook nie agterweë nie, hoewel die Lekwa Munisipaliteit geleidelik begin het om vullis te verwyder.
‘n Inwoner, wat op anonimiteit aangedring het, het ‘n e-pos na die Standerton Advertiser gestuur waarin hy munisipale tariewe onder die loep neem.
Volgens dié inwoner, is dit meer as vier maande sedert vullisverwydering in sekere gebiede plaasgevind het, hoewel rekeninge vullisverwyderingtariewe hef.
Dié sentiment word van tyd tot tyd op WhatsApp-groepe weerspieël.
Hy het gesê dat dit vir inwoners normaal geword het om werk van die saak te maak.
Ook is bepleit dat die munisipaliteit nie tariewe hef as sodanige dienste nie gelewer word nie.
Die koerant het op Donderdag 19 November ‘n WhatsApp-boodskap aan die kommunikasiebestuurder van die munisipaliteit, me. Thobeka Mtshiselwa, gestuur waarin kommentaar gevra is.
Lesers sal op hoogte van die terugvoering gehou word.



