Local newsNews

Secunda-sakeman kyk terug oor sy dekades in die sakewêreld

Die ontwikkelaar van Lake Umuzi Waterfront, Johan Rosslee, deel sy visie.

Sakeman Johan Rosslee (62) het al in 1989 sy wortels op Secunda kom plant en sy konstruksiebesigheid, Roos & Rosslee begin.

Johan het op Alberton grootgeword met ’n pa, Flip Rosslee, wat ’n messelaar was en hom baie van werksetiek en besigheid geleer het en ’n onderwyser ma, Christie, wat ’n groot liefde vir Afrikaans en drama gehad het.

Na skool is Johan Zeerust toe waar hy sy militêre diensplig voltooi het voordat hy studeer het vir boubestekopnemer aan die destydse Universiteit van die Witwatersrand. Na sy studies het hy vir Murray & Roberts op Welkom in die Vrystaat gewerk voordat hy die Vrystaat vir Secunda verruil het.

Dit was ’n vriend, Kurt Roos, wat Johan destyds aangemoedig het om Secunda toe te kom en dié twee het eers albei vir dieselfde konstruksiebesigheid gewerk wat swembaddens geinstalleer het.

Toe dié besigheid bankrot gespeel het drie maande later, het Roos en Rosslee voort gegaan om swembaddens in te sit en sodoende hul eie besigheid op die been gebring. Sedertdien is Johan ’n suksesvolle sakeman wat verskeie ander besighede begin het, of ander gehelp het om hul eie besigheid te begin.


LEES OOK: Young recycler from Standerton urges youth to stop dependency syndrome


Dit kom egter met baie harde werk en Johan onthou hoe hy as jong man, elke aand tussen 17:00 en 22:00 die meeste swembaddens verkoop het.

“Die mense het eers na 17:00 by die huis gekom van die werk af, so ek het hulle in daardie tyd gaan sien om besigheid te doen,” het hy vertel.

Hy skryf die sukses van Roos & Rosslee toe aan wedersydse vertroue tussen hom en sy kliënte.

“Ons het nooit vir mense deposito’s gevra om die swembaddens te bou nie. Eers as die werk klaar was, het hulle betaal,” het hy vertel.

Daar was baie uitdagings in die beginjare van die besigheid, soos Secunda se grond.

“Die grond hier is kleigrond bo en doloriet onder, so dan skuif en beweeg die boonste grond terwyl die onderste grond stabiel is. Ons het ’n manier gekry om dit hok te slaan, maar in die begin moes ons vir ’n hele paar jaar die swembaddens weer oopgrou om te kyk wat die probleem was.”

Johan het Lake Umuzi Waterfront in 1998 van die grond af opgebou tot wat dit vandag is. Hy het eers die Basement Teater oopgemaak waar teatergangers by tafels kon sit en iets eet.


LEES OOK: WATCH: Sakhile residents struggle amid water crisis during treatment plant refurbishment


Hy het later dié teater toegemaak en dit is vir lank as stoorplek gebruik totdat hy dit weer oopgemaak het, opgradeer het en herdoop het tot die Umuzi Teater. Dié teater lyk anders met geen tafels nie en is in dieselfde styl as groot, wêreldklas teaters gebou.

Hy adverteer al vir bykans 37 jaar ononderbroke in die Ridge Times koerant. Johan het sy vrou van die afgelope 34 jaar, Serene Rosslee, by die destydse skougronde op Secunda ontmoet en twee weke later het hy haar gevra om te trou.

Vandag is dié egpaar vier kinders en drie kleinkinders ryker. Hy wil ’n goeie leermeester vir sy kleinkinders wees. Hy het al na verskeie oorsese lande gereis en meen hy kon nie een land sien wat beter is as Suid-Afrika nie.

Hy meen Suid-Afrika het baie geleenthede vir entrepreneurs.

“Hiér kan ’n mens geleenthede skep vir jouself. As daar nie krag is nie, verkoop sonpanele; as daar nie water is nie, sink boorgate,” het Johan gesê.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Ridge Times in Google News and Top Stories.

Jana Oosthuizen

I have been working for the Ridge Times newspaper for 15 years. I worked in a few other fields before starting to work for the newspaper in October 2009. I have a diploma in Journalism and the areas where I cover news include Secunda, Bethal, Trichardt, Evander, Leandra and Kinross.

Related Articles

Back to top button