Laerskool Horison
Kom sit jou glimlag hier langs myne!
LAERSKOOL HORISON is op een van die hoogste punte aan die Witwatersrand geleë, en so reik die opvoeders en die leerders altyd na die hoogste pieke, hetsy op akademiese, sport- of kulturele gebied. Ons leuse is nie verniet ‘Wees doelgerig’ nie. By Laerskool Horison volg ons ‘n waardestelsel wat ten doel het om lewenskwaliteite by ons leerders vas te lê, en ‘n dissiplinêre opvoedingsbeleid wat waardigheid, eerlikheid en respek kweek. Verhoudings is vir ons belangrik en daarom handhaaf ons ‘n goeie en samewerkende verhouding tussen onderwysers, ouers en leerders wat bydra tot positiewe betrokkenheid. Dit is vir ons belangrik om ons leerders te help om holisties te ontwikkel en om ‘n gesonde balans te handhaaf tussen akademiese, sport-, kulturele en geestelike ontwikkeling.
Akademie
Op akademiese gebied het Laerskool Horison hoogs gekwalifiseerde en gemotiveerde onderwysers wat ‘n passie het vir die algehele ontwikkeling van elke leerder wat onder hul vlerk besorg word. Ons poog om getalle in klasse laag te hou om sodoende kwaliteitonderrig te verseker. Die akademiese ontwikkeling van elke leerder is die hoogste prioriteit. Ons lê ʼn goeie akademiese grondslag – daarvan getuig ons leerders se prestasies in die hoërskole. Graag wil ons ook baie geluk sê aan al die Graad 7 Hories van 2016 wat so pas hul matriekuitslae vir 2021ontvang het. Welgedaan met jul puik prestasies! Laerskool Horison is ongelooflik trots op elkeen van ons oud-Hories. Ons maak graag melding van die volgende leerders wat uitsonderlik presteer het.
1) Christiaan Botes (14 onderskeidings) *Top 5% IEB achiever
2) Carla Botes (10 onderskeidings)
3) Vanessa Visser (8 onderskeidings)
4) Kara Herbst (8 onderskeidings)
5) Karlien Brink (8 onderskeidings)
6) Debbie vd Merwe (7 onderskeidings) *Top 5% IEB achiever
7) Samantha Keyter (7 onderskeidings)
8) Elzaan Hopkins (6 onderskeidings)
9) Zoe Stander (6 onderskeidings)
10) Elandri Dippenaar (6 onderskeidings)
11) Kiara de Hart (6 onderskeidings)
12) Denisha Schlebusch (6 onderskeidings)

Wilma Laban is aangewys as die 2021 Graad 7-duxleerder met ‘n gemiddelde persentasie van 92%
Ons akademiese span streef daarna om leerders op alle vlakke van leer te akkommodeer en te bevorder, en sodoende elke leerder te lei tot selfstandigheid, doelgerigtheid en verantwoordelikheid, sodat elke kind optimaal kan ontwikkel en so hul volle potensiaal bereik. Die hoogste moontlike onderwysstandaarde word op ʼn gedifferensieerde basis verskaf. Remediërende onderwys word gratis na skool deur onderwysers aangebied om leerders te ondersteun wat struikelblokke ervaar met aangeleerde werk in die klas. Robotika word ook aangebied. Dit stel leerders in staat om die fundamentele vaardighede wat aangeleer is, toe te pas. Dit bied leerders ‘n nuwe gevoel van selfvertroue deur hulle toe te laat om iets bruikbaar te bou. Ons fokus ook darop om ‘n liefde vir lees by ons leerders te kweek, en buiten lees in die klasse gaan leerders ook op vasgestelde periodes mediasentrum toe om vir hulself ‘n boek uit te neem. Laerskool Horison spog ook met interaktiewe borde wat leerders se verskillende leerstyle aanspreek en hulle betrokke maak tydens lesaanbiedinge.
Arbeidsterapeute is op vasgestelde dae vir spesialisterapie by die skool beskikbaar.
Dit sluit die ongerief van vervoer uit vir die ouers. Terapeute en onderwysers werk nou saam om leerders optimaal te ondersteun en te ontwikkel. Deur buitemuurse aktiwiteite leer ons kinders hoe om saam te werk, te sosialiseer, tyd te bestuur, spanning te verminder, ‘n gesonde leefstyl te handhaaf en selfvertroue op te bou. Buitemuurse aktiwiteite word verder gesien as ʼn verlengstuk van die onderrigtaak omdat dit ook deel vorm van die opvoeding van ons leerders in totaliteit.
Ons poog om soveel as moontlik leerders te betrek by ons wye verskeidenheid sportsoorte wat aangebied word vir grootskaalse deelname en betrokkenheid, en glo dat ’n gesonde liggaam ʼn gesonde gees huisves.
Sport
Hories neem deel aan onder andere vriendskaplike derbies aan die begin van elke sportseisoen, die plaaslike Superreeks met skole van die Wes- en Oos-Rand, asook die betrokke ligas soos voorgeskryf deur die onderskeie sportliggame.
LAERSKOOL HORISON BESKIK OOR DIE VOLGENDE SPORTFASILITEITE
- Twee rugbyvelde met spreiligte
- Drie netbal- en tennisbane met spreiligte
- Krieketveld met spreiligte
- Krieketnette
Die volgende SPORTSOORTE word aangebied:
- Atletiek
- Rugby + Tau-rugby
- Netbal + mininetbal
- Krieket + minikrieket
- Hokkie + minihokkie
- Tennis
- Landloop
- Skaak
Sonskynland Horison Preprimêr
Deur aan u kleuter die geleentheid te gee om hier skool te gaan word ʼn vroeë band ontwikkel met die toekomstige ‘grootskool’ en betree hierdie kinders hul graadeenjaar met baie meer selfvertroue. Daar is ʼn Speelgroepklas (3–4 jaar), Graad RR-klasse (4 –5 jaar) en Graad R-klasse (5 –6 jaar) wat funksioneer onder toesig van gekwalifiseerde onderwyseresse. Die Speelgroepklas het ʼn assistent wat die onderwyseres help.
Die Graad R-klasse dien terselfdertyd as brugklasse vir Graad 1. Al die klasse volg ʼn goedgekeurde dagprogram.
Vir u as ouer bly dit ʼn groot gerief om u skoolgaande kinders asook kleuterkinders op een perseel versorg te kan hê. Horison Preprimêr is ‘n unieke skool met ʼn magdom van noodsaaklike ontwikkelingsaktiwiteite.
Kultuur
Kuns-en-kultuurintegrasie in skole help leerders met die ontwikkeling van motoriese, taal- en sosiale vaardighede, asook besluitneming, risikoneming en vindingrykheid.
Die volgende aktiwiteite word by Laerskool Horison aangebied: JUNIORKOOR (Graad R tot 3) en SENIORKOOR (Graad 4 tot 7)
Optredes word gehou by ouetehuise, kerkdienste, koorfeeste, kunstefeeste en kunswedstryde. Koorkampe word ook jaarliks gereël. Die koor beywer hom om ‘n hoë standaard te handhaaf, maar ook om ‘n genotvolle atmosfeer daar te stel.
REDENAARS
Ons skool se redenaars bied ‘n platform aan om sprekers te ontwikkel, en neem deel aan verskeie kompetisies. ATKV-deelname is van Graad 1 tot 7.
KUNSWEDSTRYD
Graad R- tot 7-leerders neem jaarliks deel aan die Roodepoortse Afrikaanse Kunswedstryd (RAK). Dit word jaarliks afgewissel tussen Uitvoerende Kunste soos sang, drama, voordrag, spreekkore, kreatiewe kuns, skilder, teken en modelleer.
MUSIEKBLYSPELE
Laerskool Horison bied elke tweede jaar ‘n musiekblyspel aan. Hierdie musiekblyspele het massadeelname ten doel. Sodoende kry elke leerder die geleentheid om aan hierdie uiters suksesvolle produksies deel te hê.
Studiesentrum
Laerskool Horison het ook ‘n Studiesentrum wat op die perseel bedryf word en bied ‘n eenstop-naskooldiens aan ons ouers en leerders. Laerskool Horison bied aan ons leerders ‘n voortreflike, relevante, bekostigbare opvoeding en onderwys in Afrikaans as voertaal, en handhaaf die hoogste bereikbare onderwysstandaarde deur ‘n hoogs bekwame en entoesiastiese onderwyskorps. Ons bied ruim geleentheid vir elke kind om sy of haar volle potensiaal te bereik. Kom sit jou glimlag hier langs myne en word deel van die Horison-familie.